Woeste geveg na fluitjie blaas in Noordvaal eindstryd
’n Woeste geveg het Saterdag uitgebreek na die Noordvaal eindstryd tussen die o/15 spanne van Hoërskool Middelburg en Rustenburg.
Vingers word nou heen en weer gewys oor wie die skuldige partye is.
’n o/15 seun van Hoërskool Middelburg se kakebeen is glo afgeslaan, nadat onderwysers, ondersteuners en afrigters, mekaar getakel het.
Dit is die soveelste voorval hierdie jaar by skole rugbywedstryde waar geweld uitbreek.
Mnr. Gert Lindeque, die adjunkhoof van Hoërskool Rustenburg en bekende in rugbykringe, word beskuldig dat hy by die voorval betrokke was.
Hy sê dat Rustenburg se beheerliggaam tans besig is met ’n ondersoek na die voorval.
“Mense is nie bewus dat ek beeldmateriaal het waar ek apart van die bakleiery staan en toe van agter af geslaan is nie,” sê hy.
Hy beweer dat daar van die kant van die veld af deur Hoërskool Middelburg ouers, geskreeu is, “bliksem vir Lindeque!”
Mnr. Lindeque was voorheen die eerstespan afrigter by HTS Middelburg en is in ’n wolk weg op die dorp, nadat die werwing van spelers groot ongelukkigheid in die gemeenskap veroorsaak het.
Mnr. Lindeque sê dat sy medeafrigter deur Hoërskool Middelburg se spelers van agter af getakel is.
Volgens hom het hy twee spelers uitmekaar probeer maak, toe ’n ouer van Hoërskool Middelburg hom van agter af bygekom het.
Daar is ook volgens hom ooggetuies wat gesien het hoe ’n Middelburg ouer, Hoërskool Rustenburg se een stut geslaan het. Daar word ook beweer dat een van Middelburg se stutte die Rustenburg hulpafrigter geslaan het, wat glo tot kriminele klagtes gaan lei.
Mnr. Lindeque sê dat daar vorige gevalle was van wedstryde teen Hoërskool Middelburg, waar daar opmerkings teenoor hom gemaak is.
Kort na die onderhoud het mnr. Lindeque aan www.mobserver.co.za ’n boodskap gestuur, om verder met die beheerliggaam voorsitter, Bernhard Visser, te kommunikeer.
’n Polisieverklaring wat www.mobserver.co.za onder oë gehad het, beweer dat ’n afrigter van Rustenburg, een van Middelburg se o/15 spelers, na die eindfluitjie geblaas het, aan die keel gegryp het.
’n Ouer van Middelburg het die seun glo weggetrek van die afrigter af, waarop die ouer grond toe gestoei is.
Die ouer se seun het gesien dat sy pa op die grond getakel word en het die afrigters van sy pa af gestamp. Daarna is die seun met die vuis op sy regteroor, neus en mond geslaan, word beweer.
Nog ’n speler van Hoërskool Middelburg is glo so hard van agter geslaan, dat ’n beentjie op sy regteroog gebreek is.
Hoërskool Middelburg se hoof, mnr. Johan Stronkhorst, het by navraag gesê die voorval is onaanvaarbaar en dat vedere stappe beoog word.
Kriminele klagtes is reeds deur twee van Hoërskool Middelburg se leerlinge by die polisie gelê.