Egpaar sê hulle is in dorp bedwelm
’n Egpaar het volgens hulle gedisoriënteerd in ’n supermark en tussen ander winkels rondgeval, “nadat ’n man iets deur ’n opgerolde koerant na hulle gespoeg of geblaas het”.
Mnr. en me. Dawie en Andrie Botes sê hulle kan steeds nie glo dat hulle so gou bedwelm geraak het nie.
Mnr. Botes vertel dat hulle Vrydag omstreeks 18:00 gou dorp toe is.
“Twee mans het van voor af gekom. Die een het ’n opgerolde koerant by hom gehad en na sy mond toe gebring, toe hy reg oorkant ons kom. Die volgende oomblik het hy dit direk na ons gedraai en deur dit geblaas.”
Mnr. Botes sê hy het ’n reuk gekry wat herinner aan amoniak.
“Ek het dadelik hoofpyn en hartkloppings gekry en alles het dof geraak. Ek en Andrie het aan mekaar vasgeklou, want ons albei was deurmekaar en dronk.”
Hy onthou dat hulle in die gange probeer loop het en ook na ’n ander winkel is, maar alles is vaag.
Mnr. Botes sê hy weet nie hoe hulle veilig by die huis gekom het nie, maar hulle was só siek, naar en duiselig, dat hulle ook nie kon eet nie.
“Toe ek my klere uittrek, was daar ’n vreemde wit poeier daarop.”
Hy wil graag mense waarsku om bedag te wees op mense wat iets na hulle toe gooi of blaas.
“As ons meer daarvan ingekry het, sou ons willens en wetens dalk tot ons karsleutels en geld vir hulle gegee het, want ons sou nie geweet het wat ons doen nie!”.
Die dwelmmiddel “Devil’s breath” of duiwelsasem het glo ’n zombie-effek op slagoffers en is afkomstig van ’n plant.
Www.mobserver.co.za het al vantervore berig oor bewerings van dié dwelmmiddel wat gebruik word om mense te beroof.
Daar was al mense wat in Middelburg Mall skielik deurmekaar en onsamehangend opgetree het, nadat hulle “iets” ingekry het.
•Die supermark waar die beweerde bedwelming plaasgevind het, sê videomateriaal wys dat daar nooit so voorval plaasgevind het nie.
