Petisie teen staking staan 5 000 se kant toe
’n Petisie met meer as 2 700 ondertekenaars is Vrydag aan burgemeester Mhlonishwa Masilela gestuur, waarin daar geëis word dat dienste onmiddellik gelewer word.
Die aantal handtekeninge is ontvang in net drie dae vandat die petisie geloods is.
Terwyl die staking dag na dag toeneem, groei die petisie ook sterk op change.org.
Mnr. Nico Denner, wat die petisie opgetrek het, sê dat inwoners uit alle bevolkingsgroepe die kans aangegryp het om hul name by te voeg.
“Ons eis dat inwoners se rekeninge weens die string stakings sedert verlede September, gekrediteer word, vir dienste wat nie gelewer is nie,” sê mnr. Denner.
In ’n hardbewoorde opebrief aan burgemeester Masilela, sê inwoners nou uit een mond “as lojale belastingbetalers is siek en sat vir die voortslepende, onwettige staking van jou werknemers”.
“Nie net moet ons jou aanhou betaal nie, maar ook derdepartye wat dienste lewer wat jy nie kan nie”.
Volgens die brief is inwoners keelvol vir stakers wat keer-op-keer hul sin kry, sonder enige nagevolge.
“Ons is sat vir terrorisme, sabotasie, vandalisme, en die beskadiging van infrastruktuur deur munisipale stakers, wie se barbaarse optrede geen ernstige gevolge dra nie”.
Mnr. Denner sê die burgemeester het “hoegenaamd geen beheer oor personeel nie”.
Hy gooi die kollig ook op foutiewe munisipale rekeninge wat deur onbevoegde personeel saamgestel is, en betaal moet word, “of dienste word opgeskort”.
“Ons eis daadwerklike en onversetlike optrede teen individue en werknemers onder jou beheer, wat verantwoordelik is vir die skokkende toestand van die dorp”.
Die petisie volg op Vrydag se spesiale raadsitting waartydens opposisie partye teen die aanstelling van ’n waarnemende munisipale bestuurder deur LUR van samewerkende regering, Mandla Ndlovu, gestem het.
LUR Ndlovu het die raad versoek om die voorgestelde kandidaat, me. Minah Maredi, te verwelkom, maar die DA het gesê die vorige munisipaliteit waar sy in die amp was, insluitende Groblersdal, is feitlik bankrot, en het haar rol in die VBS beleggingskandaal uitgelig.
Opposisie partye was dit eens dat een van die kandidate waarmee daar reeds onderhoude gevoer is, aangestel moet word.
Hulle het versoek dat ’n volgende raadsitting so gou moontlik gehou moet word vir ’n volledige verslag oor die kandidate, hul onderhoude, kwalifikasies en sekuriteitsklaring, om voorgelê te word, vir ’n aanstelling.
Selfs die ANC, wat die welkom mat vir me. Maredi wou uitrol, het saamgestem dat die raad weinig tande het teen arbeidsgeskille, wat die verantwoordelikheid van die administrasie is.
Nietemin het LUR Ndlovu raadslede gedreig dat hy nie sal huiwer om die munisipaliteit onder administrasie te plaas nie, weens ’n geweldige toename in klagtes en versoeke vir ingryping uit die publiek, insluitende dié van mnr. Andre Brandmuller.
