Na 10 jaar is Igna se moordenaar steeds op vrye voet
Die man wat Middelburg se mooi oudioloog, Igna Nortjé, meer as 10 jaar gelede vermoor het, is steeds op vrye voet.
Igna is op 30 Mei 2012 vanaf haar huis in Sipresstraat (Dennesig) ontvoer, in haar BMW se kattebak gedwing en later naby die polisiestasie in Verena met ’n mes doodgesteek.
Omdat byna niks gesteel is nie en sy sonder rede ontvoer en doodgesteek is, het ervare polisiemanne later gesê dui op ’n huurmoord. Maar daar is baie gesê, maar niemand gevang nie.
Daardie oggend het Igna nie by haar praktyk opgedaag nie en daar is later die dag ’n soektog na haar geloods.
Tydens die ontvoering het die moordenaar probeer geld trek in Middelburg en ook later in Stoffberg.

By ’n vulstasie op Groblersdal het ’n boer en ’n petroljoggie gehoor hoe iemand in die kattebak skop. Die man wat die voertuig bestuur het, is gekonfronteer, maar hy het in die BMW gespring en weggejaag.
Die boer het die BMW agterna gesit, maar die voertuig het onder hom uitgejaag.
Later dieselfde aand is haar lyk in ’n sloot gekry, net ’n entjie van haar kar af.
Byna niks is uit haar huis gesteel nie en haar kosblik met haar eetgoed nog daarin is in die kattebak van die BMW gevind.

Afgetrede kol. Anton Crafford (destydse bevelvoerder van die plaaslike kriminele rekordsentrum), het sowat ’n jaar na haar moord gesê dat “die hele kar opged…nner is deur polisiemanne, omdat hulle self haar voertuig van die moordtoneel af weggery het.”
Daar is oral in haar voertuig vingerafdrukke gekry, maar die meeste daarvan was van die polisiemanne. Kol. Crafford was so kwaad dat hy ’n brief aan die provinsie geskryf het dat die polisielede aangespreek word. Maar daar het niks van gekom nie.
Daar is ook ander vingerafdrukke gekry, maar dit het destyds “negatief” teruggekom. Dit beteken die vingerafdrukke was óf van polisielede óf van ‘n persoon wat nog nooit gearresteer is en wie se besonderhede nie op die stelsel is nie.
Hy was seker dat die motief van haar moord nie roof was nie. Buiten die gaspistool, wat die moordenaar langs haar lyk neergegooi het, is daar niks anders gesteel nie en selfs die kar se radio was nog daar.
’n Gesigsamestelling is kort na die moord gedoen met die hulp van die petroljoggie en die boer, maar tientalle berigte met die samestelling daarby, het niks opgelewer nie.
Ses mense is sedertdien ondervra.

• Die eerste verdagte was Andries Tjetla. Me. Nortjé se selfoon is by hom gevind en sy verweer was dat hy die foon opgetel het.
Tjetla en die ander vyf verdagtes se DNA, vingerafdrukke en alibi’s is opgevolg en hulle kon nie met haar moord verbind word nie.
• Al die prostitute op die ou Belfastpad is kort na die moord ondervra, maar hulle kon nie bruikbare inligting van die moordenaar by hulle kry nie.
• In die dossier is daar ook ’n aantekening rakende ’n vrou wat in 2015 na vore gekom het en ’n verdagte uitgewys het. Hy was egter een van die ses wie laat gaan moes word, omdat hy nie verbind kon word met die moord nie.
• Na haar moord het haar pa, mnr. ST Potgieter ’n R100 000 beloning aangebied, vir enige inligting wat sou lei tot ’n arrestasie. Ander Middelburgers het ook groot bedrae bygevoeg.
Net een vrou het navore gekom met vae inligting, maar daar het ook niks van gekom nie..
• In 2016 is daar vir die eerste keer inligting bekend gemaak dat die moordenaar donker akneevlekke gehad het.
Die ooggetuies het gesê hy was tussen 30-40 jaar oud, slank gebou, sowat 1.65m lank, met kort hare en hy het Phedi gepraat. Hy het prominente wangbene gehad en donker akneemerke op sy wange.
• Tydens ’n vorige onderhoud met die destydse bevelvoerder van die Valke, kol. Faan Steenkamp (afgetree) het hy gesê dat haar moord baie polisiemanne laat kopkrap het. “Sy is vir niks vermoor nie.”
Hy het ook genoem dat hul stelsel die hele tyd vingerafdrukke outomaties skandeer en dit dan vergelyk word met sake om te kyk of persone wat gearresteer word, positief verbind kan word met ou sake.
Tot vandag toe nog is die moordenaar nog nie aangekeer vir enige ander sake nie en hy bly die polisie ontduik.
• Igna se ouers gaan elke jaar op haar verjaardag en op die dag van haar afsterwe na die Nasionale Krugerwildtuin.
Daar is ’n spesiale uitkykpunt waar hulle, na haar dood, met toestemming van SANParke, ’n sementtafel met ’n plaatjie opgesit het.
Op die plaatjie is haar geboorte- en doodsdatum, asook die woorde: “Enjoy my View”.
In hul huis is daar ook ’n foto van Igna in ’n hoekie van hul kombuis waar daar daagliks blomme gesit word.
Onder Igna se foto is daar ’n klein bordjie met ’n legkaart stukkie daarop met die woorde: “Family is like a puzzle, it is not complete without all of its pieces.”
Mnr. Potgieter het gesê dat die persoon wat sy dogter vermoor het, “met sy skuldige gewete moet sterf ás hy ’n gewete het.”
