Videos wys hoe stakers die skoonmakers aanval
Bykans ’n week nadat ’n trokdrywer van Mica deur stakende munisipale werkers tydens ’n gemeenskaplike skoonmaakveldtog in die middedorp aangerand, en die Mica trok beskadig is, is die polisie vandag eers bereid om ’n amptelike klag te registreer.
Mica het die vedltog van stapel gestuur met ondersteuning van ander besighede en gemeenskapslede wat in hordes opgedaag het om die stakers se werk te doen.
Een van Mica se twee trokke wat vir die veldtog beskikbaar gestel is, is erg deur stakende munisipale werkers in rooi oorpakke met die munisipaliteit se embleem op beskadig.
Mica eienaar, mnr. Hugo de Witt, het na die voorval ’n klag van opsetlike saakbeskadiging by die polisiestasie probeer aanmeld, met behulp van sy prokureur Derick van Wyk.
Die ondersoek is egter bemoeilik omdat die aanvallers onidentifiseerbaar was.

Mica het vooraf met die polisie gereël vir beskerming tydens die skoonmaak, wat goed verloop het, todat ’n man in ’n grys voertuig ’n leë bierbottel na die vrywilligers in Walter Sisulustraat geslinger het.
’n Goedhartige taxi-bestuurder het die man wat die bierbottel gegooi het gekonfronteer, waarna die groep in rooi oorpakke op die groep toegesak het.
Vier van die trok se ses bande is stukkend gesteek en die trok se windskerm en syruite is uitgeslaan.
Die bestuurder, wat net voor die konfrontasie gevra is om eerder terug te gaan na waar vrywillgers saamgekom het, is ook aangerand.
Daar is intussen vasgestel dat die persoon by wie Mica beloftes van polisebewaking tydens die skoonmaakoperasie verkry het, eintlik ’n sekretaresse in die polisiestasie was.
Mnr. De Witt is later deur een van die stasie se topbestuur, na ’n oproep vir raad aan ’n ander topbestuurslid, meegedeel dat hy as eienaar van die voertuig nie ’n klag kan lê nie.
Die bestuurder van die Mica trok moes dit glo doen.

Mnr. De Witt sê dat hy nie net uit beginsel teen die misdadige optrede die saak wou registreer nie, maar dat ’n saaknommer ook nodig is vir versekeringsdoeleindes.
Met die polisie wat nie wou help nie, het mnr. De Witt en sy kollegas, soos die stakers se werk, die polisie se werk oorgeneem.
Hulle is van besigheid na besigheid in Walter Sisulustraat waar CCTV videomateriaal van die aanval by meer as een besigheid verkry kon word.
Mnr. De Witt, die trokdrywer en mnr. Van Wyk is vandag terug polisiestasie toe, waar hulle ampertjies weer die deur gewys is omdat die voorval reeds dae terug gebeur het.
Eers nadat mnr. Van Wyk die polisielid terreggewys het dat daar geen beperkings ter sprake is nie, en videomateriaal intussen bekom is, het die polisieman vir hulle gesê “val in die tou”.
Mnr. Van Wyk sê naas opsetlike saakbeskadiging en aanranding, moet die polisie ook klagtes van openbare geweld en opstokery ondersoek.
“Wat plaasgevind het is misdaad, en nie net enige misdaad nie, maar geweldsmisdaad wat ’n top prioriteit vir die polisie behoort te wees,” het mnr. Van Wyk buite die polisiestasie vir www.mobserver.co.za gesê.
Intussen het die skoktotaal van die stakings Sedert September die week in ’n raadsitting na vore gekom.
Om meer hieroor te weet, kry nou jou nuutste uitgawe van die Middelburg Observer, wat reeds op die rakke is.
•Hendrina inwoners het gister die dorp sonder enige voorval skoongemaak.
