Kiewiet kuikens vasgekeer in Klein Olifants
Vier kiewiet kuikens is op ’n sementblad vasgekeer in die middel van die Klein Olifantsrivier, naby die Koppiestraat laagwaterbrug.

’n Besorgde inwoner, mnr. Leonard Bezuidenhout, het gistermiddag die kuikens aangetref en was bekommerd dat hulle kan verkluim.
Die sementblad is omring deur water wat keer dat die vier kuikens land kan bereik.
Www.mobserver.co.za het vanoggend saam met Des Jelliman en Cobus Fourie die kiewiet kroos se dilemma ondersoek.

’n Voëlkenner het gesê dat die kuikens nie in gevaar is nie en dat die ma hulle versorg en saans warm hou. Sy voorstel was dat die kiewiete nie gevang en na droeë grond geskuif word nie.
Hy het ook gevra dat inwoners die gesinnetjie alleen moet laat.
Indien Middelburgdam se sluise oopgemaak word, sal daar gereël word dat die kuikens na ’n veilige plek geskuif word.
Die broeipaar is raakgesien op die sementblad. waar hulle soos ’n valk oor hulle kroos waak en besoekers met skerp skreeugeluide waarsku, om nie naby hulle nes te kom nie.
