Werktuigkundige erg beseer toe bakkie in vlamme uitbars
’n Man van Groblersdal wat op onklaar voertuie werk, het verlede Vrydag erge brandwonde opgedoen, nadat sy privaat bakkie onverklaarbaar aan die brand geslaan het.

Mnr. Daniel van Rooyen was in die kajuit van die bakkie toe dit in vlamme uitgebars het.
Ondersoeke is tans aan die gang om te bepaal wat die brand veroorsaak het.
Mnr. Van Rooyen het ernstige brandwonde op beide sy arms en bene opgedoen.
Die voorval het omstreeks 03:00 die oggend plaasgevind, toe mnr. Van Rooyen reageer het op ’n onklaar voertuig wat hy moes herstel.
Sy vrou, Michelle, sê dat hy tans operasies op sy arms moet ondergaan, maar die egpaar het nie ’n mediese fonds nie.

Daar is ’n spesialis wat bereid is om die nodige veloorplantings en behandeling te doen, maar dit gaan hulle minstens R60 000 uit die sak jaag.
Mnr. Van Rooyen is die hoofbroodwinner terwyl me. Van Rooyen ’n inkomste van net R5000 per maand het.
“Ek weet nie hoe ons selfs ons huur gaan dek nie,” het sy bedroef gesê.
Dokters sê dat mnr. Van Rooyen minstens drie maande nie sal kan werk nie, met ’n lang herstelproses voor hom.
Me. Van Rooyen het reeds ’n week se verlof geneem, en moet nou terug werk toe.
Daar sal aan beide sy arms geopereer moet word.

Kostes van fisioterapie is nie by die mediese rekening ingereken nie.
Naas behandelingkostes benodig die Van Rooyens ook verbande en Solbivor salf vir die oppervlakkige brandwonde.
Omdat mnr. Van Rooyen tans ’n dagpasiënt is, kos dié benodigdhede, wat kos insluit, meer as R700 daagliks.
Mnr. Van Rooyen kan tans nie self oor die weg kom nie, en verduur erge pyn.
Die paartjie vra enige donasies om mnr. Van Rooyen so gou moontlik weer op die been, en aan die werk te kry.
“Die stres maak ons dood en ons weet nie watter kant toe nie,” sê Michelle.
Samaritane wat enige finansiële hulp, hoe gering ookal, kan bydra kan donasies deponeer in die rekening van Gert Daniel van Rooyen se Capitec spaarrekening met rekeningnommer 1358693550, met takkode 470010.
