News

Familie soek antwoorde na pa in pad doodgery word

’n Jong pa is dood, nadat hy onder raaiselagtige omstandighede doodgery is.

Mnr. Riaan Labuschagne (47) is deur ’n bakkie op die N11 getref, naby Roslé Boerdery.

Mnr. Collin Coetzee, Groblersdal se verkeershoof, was die bestuurder van die bakkie en sê “toe ek weer sien, toe het dit gebeur.”
Hy was op pad huistoe vanaf Middelburg na ’n vergadering, toe die ongeluk gebeur het

Volgens mnr. Coetzee het hy ’n vragmotor wat steenkool vervoer verbygesteek. Toe hy om die draai kom, het ’n man in die pad gestaan.
Dit het so vinnig gebeur dat daar nie tyd was om te reageer, uit te swaai of rem te trap nie, sê mnr. Coetzee.

Mnr. Coetzee het die man in die pad met sy bakkie getref.

’n Privaat ambulansdiens het mnr. Labuschagne op die toneel dood verklaar.

Die bakkie van mnr. Collin Coetzee na die ongeluk.

Mnr. Coetzee is nie in die ongeluk beseer nie. Hy sê “dit is net uit God se genade” dat hy die ongeluk oorleef het.

Mnr. Labuschagne is eers die volgende dag deur sy ouers uitgeken, nadat hulle hom as vermis wou aanmeld by die polisie.

Sy ma, me. Sylvia Vermaak, sê dat hul kon bevestig dat hy by Watergat was voor die gebeure.

Sy het hom vroeër die dag gesien en vir hom R220 geleen. Mnr. Labuschagne het ’n drankie by Watergat bestel, maar volgens sy ma, nie eers sy drankie gedrink nie, opgestaan en uit Watergat loop.

“Hy het omstreeks 22:00 uit Watergat geloop. Hy het sy baadjie, met sy voertuig se sleutel in sy baadjie se sak en sy voertuig by Watergat gelos. Daar was ook nog R170 in sy baadjie se sak.”

Dit laat sy familie wonder wat in die 45 minute gebeur het voor sy dood.

“Ek ken my kind. As daar moeilikheid was, of as hy te dronk was om te bestuur, sou hy ons gekontak het om hom te gaan haal. Sy oom bly ook naby Watergat en hy sou hom ook gebel het. Ek ken my kind, hy sou nie sy voertuig net by ’n plek gelos het nie. Iets moes gebeur het,” sê me. Vermaak.

Die familie vermoed vuilspel.

“My seun het in 1995 ’n breinoperasie ondergaan ná ’n ongeluk. Indien hy net ’n hou teen sy kop sou kry, sou hy sy bewussyn verloor.”

Sy vermoed dat hy in ’n onderonsie betrokke was het buite Watergat, geslaan is, die persone dalk geskrik het toe hy sy bewussyn verloor en hom langs die pad afgelaai het.

“My seun het dalk wakker geword, nie geweet waar hy is nie en in die pad beland. Dit is egter baie ver om te stap van Watergat na Roslé waar die ongeluk plaasgevind het. Die pad was ook baie donker.”

Mnr. Johnny Vermaak, broer van me. Vermaak, vertel dat daar vroeër die aand ’n voorval in die kroeg plaasgevind het, waar twee mans kwaad geraak het vir mnr. Labuschagne.

“Ons vermoed dat een van hierdie mans aan Riaan geslaan het en hom langs die pad afgelaai het. Dit maak nie vir ons sin hoe Riaan op daardie deel van die pad sou wees nie. Ons het ook inligting ontvang dat die polisie twee mans, wat by Watergat gekuier het, gejaag het tot in die dorp en toe later weer voor die ingang van Watergat gearresteer het. Ons probeer uitvind hoekom hierdie twee mans gearresteer is,” sê mnr. Vermaak.

Sy sê dat hul geen kwade gevoelens het teenoor mnr. Coetzee nie, en besef dat dit ’n fratsongeluk was. “Al wat ons graag wil weet, is wat het in daardie 45 minute gebeur vandat hy by Watergat uitgeloop het, tot die ongeluk plaasgevind het.”

Die familie is tans besig met hul eie ondersoek.

Volgens me. Vermaak sou haar seun nie selfmoord gepleeg het nie, aangesien hy ’n dogter van 15 jaar oud het, vir wie hy baie lief was. Sy het hom ook vroeër die dag gesien en geen vreemde gedrag opgemerk nie.

Mnr. Labuschagne het in Januarie na Groblersdal verhuis vanaf Oos-Londen. Hy is ’n veiligheidsoffisier, maar het algemene onderhoud gedoen by Living Waters Private School.

Me. Vermaak beskryf haar seun as hardwerkend en ’n goeie pa en man.

Mnr. Labuschagne se begrafnis het Saterdag vanuit die AGS plaasgevind.

Hy laat sy ma, Sylvia, pa, Sarel, dogter, Mekayla, susters, Adelle en Estelle en vriendin, Michelle, agter.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Check Also
Close
Back to top button