Kaptein van luukse plesierboot vertel meer oor sy lewe
Oud-Middelburger Wikus Botes, wat sedert Aprilmaand die kaptein is van ’n luukse plesierboot, het hard gewerk om sy ideale te verwesenlik.
Maar wie is die nederige jong man, sy ma, Marianne de Wet se oogappel, wat bereid is om sy lewensverhaal met www.mobserver.co.za te deel?
Hy onthou dat sy gesin Middelburg toe getrek het in sy laerskooldae en dat hy graad vyf tot sewe aan Laerskool Staatspresident C.R. Swart voltooi het.
Sy hoërskoolloopbaan het hy aan HTS Middelburg in 2005 voltooi.
Wikus sê hy het op skool aan soveel moontlik sport deelgeneem soos rugby, krieket, tennis en selfs korfbal, “maar ek het van vroeg af die meeste van rugby gehou.”
Hy was deel van die Rooi Bulle in 2004 en 2005 en het na skool by Middelburg Rugbyklub aangesluit. In 2006 word hy gekies vir die Pumas se o/19-span waar hy deel was van die span tot 2009.

Omdat hy ’n rugbybeurs gehad het by die universiteit moes hy studeer en het bemarking aangepak.
In 2012 besluit hy om buitelands te gaan soek vir geleenthede.
“Ek wou my eie ding doen en nie soos baie locals vasgevang word in Suid-Afrika met minimum opsies nie. Daardie jaar het my vriend, Bernhard Bekker, ook ’n oud Rooi Bul, in die jagindustrie gewerk en ek het besluit om die kans te vat en oor te vlieg Florida, VSA toe. Ons is nou drie oud Rooi Bulle wat in die yachting industry werk. Renier Venter het ook oorgekom in 2014.”
Dieselfde jaar wat hy begin het met sy opleiding, het hy ook duikkursusse gedoen in oopwater en gevorderde duik op Langebaan.

“Atlantic Yachting in Langebaan was waar alles vir my begin het in 2012.”
Hy verduidelik op een van die pragfoto’s waar hy duik dat die “foto geneem is by een van 6 000 Cenotes met die naam, Le Pit, in Tulum, Quintana Roo, Mexico waar ek vakansie gaan hou het in Julie 2019. Le Pit is deel van die Sac Actun, wat die langste onderwater grotsisteem is in die wêreld. Ek het al in baie verskillende lande en plekke in die wêreld geduik wat onder andere in die Indiese, Atlantiese en Stille Oseaan insluit. My droom is om nog in die Arktiese Oseaan ook te gaan duik. ”
Een van sy beste ervarings in duik was toe sy boot vir ’n maand geanker was by die British Virgin Islands en hy daagliks kon gaan duik.
Hy onthou dat die weersomstandighede perfek was om ’n skeepswrak duik te gaan doen op die “RMS Rhone”. Dit was die UK Royal Mail Skip wat gesink het in 1867 tydens ’n orkaan waar 123 mense aan boord gesterf het.

Tydens hul duiksessie het ’n groep dolfyne opgedaag en tussen hulle geswem vir omtrent 10 minute. Hy het ook die dag “die grootste groen seeskilpad van my lewe gesien.”
Alles is nie net pret nie.
Wikus verduidelik om ’n kaptein van so ’n groot jag (plesierboot) te wees vat tyd en moet ’n mens moet baie kursuse doen om die verskillende lisensies te kan kry en dan ook “seetyd” te doen, voor jy jou volgende lisensie kan kry.
Hy het sy opleiding begin by in Langebaan by Atlantic Yachting en van sy modules gedoen by PYT in Durban.
“Dit was vir my Officer Of the Watch 3000gt CoC (Certificate of Competency – bekwaamheidsertifikaat). Na dit het ek die meeste van my studies in Amerika en ook in die suide van Frankryk gedoen. In Oktober 2017 het ek my Chief Mate 3000gt CoC gekry en moes toe nog 24 maande op ’n jag werk en 240 dae op die see werk, voordat ek my meesters kon doen. In April 2021 het ek toe my Master 3000gt CoC gekry.”
Wikus was ook al ’n paar keer in Thailand gewees.
“Ek het op Koh Tao eiland gebly vir drie maande waar ek my duikmeesters en -instrukteursopleiding gedoen het in 2015. In 2016 het ek weer ’n draai gaan maak in Thailand en die keer was dit vir ’n maand lank se Muay Thai opleiding gewees in Phuket by Tiger Muay Thai.
Voordat hy hierdie jaar die kaptein geword het van die M/Y 4 Roses, was hy vir vier jaar op M/Y Laurel 73m Delta en met ’n span van 24. Daar was hy tweede offisier, tot hy in 2017 bevorder is as eerste offisier in 2018 en in Februarie 2019 as hoof offisier.
“Nie lank na dit nie het die senior kaptein my die verantwoordelikheid gegee as junior/afloskaptein waar ek toe gewerk het tot Julie 2021. Na dit was ek kaptein van M/Y Silver Lining 50m Christensen met 11 bemanningslede en daarna het ek aangesluit by M/Y, waar ek in April 2022 by M/Y 4 Roses aangesluit het wat 14 bemanning kan vat.”

Wikus sê sy hart verlang altyd na sy mense in Suid-Afrika en hy sal baie graag meer tyd in ons land wil spandeer.
“Ek dink ons almal wil hê dinge moet beter word in die land en ek sal altyd aanhou bid vir vrede en liefde tussen ons mense. Dit kan regtig een van die top lande in die wêreld wees as dit net reg bestuur word. Ons kort ’n Donald Trump.”
Hy beoog om binnekort op rotasie te gaan sodat hy meer met familie en vriende in Suid-Afrika kan kuier.
“Ek sal dan tussen Blouberg en West Palm Beach beweeg op my af tye. Sodra Eskom begin met hulle beurtkrag, dan pak ek op en vlieg oor VSA toe. Dis so lekker om in ’n land te wees waar alles net werk en mens kan by ’n bank of openbare plek instap en alles gedoen kry sonder om ure lank in ’n ry te staan. Elke keer as ek terug is in Suid-Afrika dan vat dit my ’n tykie om gewoond te raak aan die Africa Time mentality.”
•Wikus trou op 25 September met sy Kaapse meisie, Marlinde de Vos.
•As hy tyd het, vang hy graag vis en duik nog gereeld. Sy nuutste stokperdjie is “kiteboarding wat hy begin doen het Januarie 2022 in Blouberg waar hy bly wanneer hy in Suid-Afrika is. “Ek het selfs baie in Langebaan gaan oefen en dis waar ek vir Mar-Linde ontmoet het.”
Hy ry ook graag met sy Harley Davidson rond “om my kop skoon te kry en net af te skakel van al die gejaag in die lewe.”
