Christoff volmaak die wonder om te skep
Daar is twee woorde wat Christoff Kruger beskryf: Karaktervol én talentvol.

Hy lei ‘n mens op na die trappe in sy Italiaanse-styl huis, wat hy self ontwerp het, verby sy eie skilderye in die gang na die balkon wat uitkyk oor die prag natuur op die wildsplaas, Olyfenbosch.
Hier vertel hy van sy kunswerke, kunslesse en passies.
Donderdae daag vroue van Marble Hall, Settlers en Pretoria, met wyn en verfkwasse in die hand by Christoff op, vir kunsklasse.
Hulle gesels geesdriftig oor die kunsles, Eco Printing.
Christoff bied een keer per maand kunslesse aan vir twee groepe vroue van Marble Hall en Groblersdal, maar daar is ook ‘n paar wat ver ry om dit by te woon. Hy bied ook privaat lesse aan.
Die lesse is in verskillende kunsvorms, akriel en olieverf, enkaustiese wasverf, beeldhouwerk en keramiekverf.
“Hulle is hier om kreatief te wees, heerlik te eet en wyn te drink. Dit is ‘n ontvlugting van elke dag se roetine. Hier kan hul die natuur geniet, jy is privaat, jy kry vyfster behandeling. Alles behoort aan jou. Dis stil en rustig.”
Christoff hou daarvan om gesigte en abstrakte blomme te verf, met ‘n paletmes en impasto.
Hy verkies olieverf kunswerke, maar omdat dit ‘n lang proses is, is meeste van sy kunswerke in akriel.
Hy doen van realisme tot abstrak, die hele spektrum. Hy skilder graag op sy balkon, maar oral in sy huis is papier, verf en kwaste, so wanneer die inspirasie klop, is hy gereed. Hy doen ook kommisies op sy kunswerke en beoog om sy huis in ‘n gallery te omskep.
“Ek is baie lief vir klassieke musiek en sal dit soms aanskakel, maar ander kere is dit wonderlik om net die natuur te beleef.”
Dit neem Christoff ongeveer vyf dae om ‘n skildery te voltooi, wanneer hy gewone kantoorure aan die skildery sou werk.
Buiten skilderkuns, doen hy ook beeldhouwerk, speel klavier, sing en geniet kookkuns, om mense te onthaal en argitektuur.
Christoff is ‘n gebore en getoë Groblersdaller en het aptekerswese op Potchefstroom gestudeer.
Hy was in die Alabama studentegeselskap saam met Rina Hugo.
Na sy graadstudies, is hy na Pretoria waar hy deel gevorm het van Truk (Transvaalse Raad vir die Uitvoerende Kunste).
Hy het ‘n rol in “Josef” gekry. Dit was op daardie stadium een van die top produksies van Truk en hy was vir tien jaar die oudste broer in die Joseph produksie waar hy gesing en gedans het.
Dertig jaar nadat Christoff sy graad in aptekerswese verwerf het, is hy na Medunsa (Sefako Makgotho Health Sciences University) om sy meestersgraad te doen. Hier was hy ook ‘n senior lektor by die School of Pharmacy
Hy het sy eie apteek in Edenvale begin en ‘n apteek bestuur by die ou Jan Smuts lughawe.
Sowat 13 jaar gelede het hy terug gekom Groblersdal toe, waar hy met Godiva Gastehuis, wat eers sy ma se huis was, begin het.
Christoff het in die 70’s die huis waar sy ouers gewoon het naby Welgevonden, ontwerp. Dié huis is deur die staat gekoop as die Kommissaris-Generaal van die Ndbeles se woning.
In die 80’s het hy sy ma se huis ontwerp en dit na haar dood in ‘n gastehuis verander.
Christoff het sy eie binnenhuisversiering besigheid in Johannesburg gehad en het ook sy huis op Olyfenbosch ontwerp, waar hy tans woon en ‘n aandeelhouer is.
“Ek het baie gereis in Europa, Italië, Frankryk en die Kaap en verlief geraak op die huise met hul dik mure. Ek wou graag ‘n idilliese huis bou met dik mure.”
Die huis is op die 600cm pilare van die stoor gebou en is in ‘n Italiaanse styl.
By Godiva het Christoff self die fonteine, mure en kuns met sy eie hande aanmekaar geslaan.
Hy het Godiva verkoop en kuns en kreatiwiteit as sy grootste tydverdryf opgeneem.
Hy is steeds ‘n apteker en lokum by verskeie apteke in die Vallei.
Sy droom is om ontbyte aan te bied. “Daar is baie internasionale jagters op plase in die omgewing en ek wil graag hul vrouens onthaal met lekker kos en ‘n geleenheid om te skilder of keramiek te verf.”
•Hy het ook in Oktober verlede jaar ‘n kos- en kunsaand, Palate & Palette, aangebied naby Lydenburg. Hier het Tippie Enslin die kos gemaak terwyl Christoff sy kuns uitgestal het.
