Nog twee vas na man in bed doodgeskiet is
Nog twee mense is in hegtenis geneem, na die moord op Raymond Papapavlou. Hy is in Oktober 2020 op die plaas Rooikraal, tussen Stoffberg en Groblersdal, in sy bed doodgeskiet.
Adjudant Debbie van Zyl, die ondersoekbeampte in die saak, het die arrestasie van ’n man en vrou op aanklag van sameswering om moord te pleeg, bevestig. Hulle is van Gauteng af en doen volgende week aansoek om borg.
Sy wou nie op hierdie stadium hulle name bekend maak nie.
Raymond is ’n oudleerling van Laerskool Middelburg en beide HTS Middelburg en Hoërskool Kanonkop.
Die saak geniet wye media belangstelling en is selfs op die program CarteBlanché gebeeldsend.

Sy vrou, Simoné, is na sy moord in hegtenis geneem en na ’n lang hofstryd op borg van R15 000 vrygelaat. Haar mede-beskuldigde, Patricia Ray-Lee Smith, is uit op borg van R5000.
Die twee word albei later die jaar vir Raymond se moord verhoor.
Simoné Papapavlou se verklaring is in die hof voorgelees tydens haar formele borgaansoek in die Groblersdal Landdroshof.
Volgens die verklaring bly sy sedert November 2020 by haar ouers in Bronkhorstspruit.
Sy is werkloos en beweer dit is hoofsaaklik as gevolg van gerugte op sosiale media en mediaberigte dat sy aangekla is. Voor Raymond se dood, het sy by Dinkwe Safaris gewerk, wat aan Raymond se oom, Japie Jonker, behoort.
Hy het nie ’n testament gehad nie. Simoné is die erfgenaam van sy boedel.
Simoné ontken al die aantygings teen haar en het gesê dat die staat ’n swak saak teen haar het.

Die ondersoekbeampte in die saak, adjudant offisier Debbie van Zyl, het voorheen getuig dat Simoné en Smith in ’n verhouding was sedert November 2019.
Volgens a.o. Van Zyl lei Simoné se verklaring aan die polisie dat sy besig was om televisie te kyk, toe sy skote in haar man se kamer gehoor het. Haar hond het na ’n deur tussen die twee vertrekke gestorm, toe iemand dit probeer oopmaak het en sy het skote na die deur gevuur.
Sy het in haar verklaring gesê “dat sy skaduwees gesien en stemme gehoor het”.
A.o. Van Zyl het vertel van ’n voorval in Mei 2020 toe Papapavlou siek geword het, nadat sy vrou vir hom ’n braaibroodjie gegee het. Simoné en twee ander vroue het die broodjies gemaak en sy het glo eerste vir Papapavlou opgeskep.
A.o. Van Zyl het getuig dat sy bewyse het dat Simoné na Two-Step gif gesoek het in Johannesburg. Sy het ook ’n verklaring van ’n getuie wat lui dat Simoné na die beweerde mislukte vergiftiging in Mei 2020, gesê het dat sy na ’n geweer soek.
Sy het getuig dat sy dink die motief van die moord nie net vryheid uit die huwelik was nie, maar ook finansiële gewin.
A.o. Van Zyl het verwys na ’n dokument wat deur Simoné opgestel is waarin sy sê dat sy verskeie waardevolle items soos ’n dubbelkajuitbakkie, skootrekenaar en selfoon, R8 000 per maand en twee jaggewere wil behou en ook dat sy steeds op Papapavlou se mediesefonds wou wees as hulle skei.
Sy het ook getuig dat Simoné na haar man se dood na bewering reeds ’n Platinum Life polis geëis het en gesê het dat haar man in ’n plaasaanval dood is.
