Beurtkrag kos Mpumalanga tussen R49 en R69 miljoen per dag
“Die langdurige beurtkrag weens Eskom se verlaagde opwekkingsvermoë kos Mpumalanga tussen R49 miljoen en R69 miljoen per fase per dag. Dit gee ’n idee van die omvangryke ekonomiese skade wat reeds oor jare aangerig is,” het mnr. Werner Weber VF Plus-LPW en provinsiale leier: Mpumalanga, gesê.

In antwoord op ’n vraag van die VF Plus, het die LUR vir ekonomiese ontwikkeling en toerisme, mnr. Vusi Mkhatshwa, berekeninge van die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR) in dié verband beaam.
Daarvolgens is die koste van fase 4-beurtkrag tussen R196- en R276 miljoen per 24-uursiklus of tussen R8,2- en R11,5 miljoen per uur.
Die grondslag vir die berekening is die aantal ure beurtkrag en die nasionale koste van beurtkrag (R500 tot R700 miljoen) in 2021; wat dan aan verskillende fases daarvan toegeken is.
Die beraamde koste per fase per dag vir die provinsiale landboubedryf sal tussen R1,4- en R2 miljoen beloop, en tussen R5,6- en R8 miljoen tydens fase 4.
Vir die provinsiale mynbedryf is die beraming tussen R13- en R19 miljoen per fase per dag en tussen R52- en R76 miljoen tydens fase 4.
“Nuus oor aanhoudende beurtkrag is kommerwekkend. Duisende werksgeleenthede gaan daagliks verlore en dompel die provinsie en die land dieper in die moeilikheid.
“Dit is onaanvaarbaar dat Eskom se probleme die afgelope dekade goed gedokumenteer is sonder om te verbeter.
Die aanstelling van bekwame en goed opgeleide personeel is die vertrekpunt.
“Intussen sal die gebruik van alternatiewe kragbronne met erns benader moet word om verdere fases van beurtkrag te vermy. Instandhouding moet ook prioriteit geniet.
“Dit bly skokkend dat die ANC oor jare gestaan en toekyk het hoe Eskom in duie stort.”
