News

OPINIE: Die land is in die poef. Letterlik!

Suid-Afrika is in die poef. Letterlik!

Kniediep in die poef.

Eintlik is daar ’n krasser woord.

Een wat die Windhoek Observer se redakteur, Hannes Smith, al in 1986 gebruik het toe hy die hoof van vervoer, Kobus Durand, uitgetrap het oor Suidwes-Afrika (Namibië) se paaie.

In die opskrif het dit in vet swart letters gestaan: “Alles k@k, Kobus”.

Die korter weergawe van die sagter op die oor “poef” word nie sommer in goeie geselskap gebruik nie.
Tog sal mense dit vrylik aanwend in spreektaal, soos om te sê “jy gaan vandag !&k!”

Of jy praat nou twak, of so iets.

Maar hoe diep is ons in die poef?

So diep dat mense al blasé geword het oor die poefprobleem.

Gerhard Rheeder skryf partytjiegangers het na ’n sesweke lange munisipale staking, stoele langs die Klein Olifantsrivier uitgepak en neffens het riool uit twee mangate gevloei.

Die mangate het vir weke oorgeloop en damme poef gevorm.
Dit het mense nie verhinder om langsaan te partytjie nie.

Maandagoggend het dik strome riool steeds uit ’n mangat gestroom en in die rivier verdwyn.

Daar gaan nie ’n dag verby dat inwoners by www.mobserver.co.za kla oor riool wat iewers uitloop nie.
Maar dit is nie net ’n Middelburg probleem nie, dit is ’n Suid-Afrika probleem.

Janine Saayman skryf in Die Daller:

“Die masjiene wat lug in die damme moet stoot, om die riool op te breek, is buitewerking, grasse in die damme staan so hoog soos ’n huis se dak, wat daarop dui dat dit nie gebruik word nie. Die damme is pikswart en ’n stank hang oor die rioolplaas. Die riooldreine by Afgri loop vir die vyfde keer in twee maande oor. Dié riool vind hul weg na die stormwaterkanaal. Daar is ’n rivier van riool wat hierdie hele stuk van die dorp skei.”

’n Paar weke later skryf sy weer:

“’n Oorweldigende stank hang in die aanhoudingselle van Marble Hall Polisiestasie, waar rou riool aan die agter-en voorkant van die selle verbyloop tot in die terrein van die Marble Hall Landdroshof.”

Www.mobserver.co.za berig al lank oor sporadiese rioollekke in die omgewing van Eastdene op Middelburg waar ’n mangat, wat riool vanaf die industriële gebied na Boskrans vervoer, verstop raak en dan oorloop.

“’n Ondraaglike stank hang oor die hele dorp weens die voortslepende probleem,” is destyds berig.

Sondag skryf Rapport oor Parys inwoners wat vir dae deur ’n maagvirus platgetrek word. “Die Rooidam wat voorheen ’n leidam was, is nou tot oorlopens vol rioolvuil.”

Hoe diep die land in die poef is kan in Daily Sun se opskrifte gesien word.

Net soos Hannes Smith skroom die koerant nie, al is dit ’n Engelse koerant, om die ander weergawe van poef te gebruik nie. Daar is onder andere “Living in kak”.

Miskien moet die agbare president Cyril Ramaphosa ophou slaggate regmaak en aandag gee aan die land se rioolprobleem.
Ons kan nie nog ’n poefprotes bekostig nie.

Back to top button