News

Innibos bied heerlike gesinspret by Buitelug Familiefees

Innibos gaan die somer tegemoet met ’n Buitelug Familiefees provol vermaak vir die hele gesin!

Die fees vind op Vrydag 30 en Saterdag 1 Oktober plaas by Kwanyoni Lodge op die N4, net buite Nelspruit.

Die fees skop om 15:00 die Vrydag af en feesgangers kan gesellig saamkuier terwyl die stalletjies besoek word. Daar is ook ‘n opwindende skattejag vir die kinders terwyl besoekers verskeie bekende kykNET akteurs in lewende lywe kan ontmoet.

Om 17:00 begin die musiekprogram met Reën, Jan, Jan, Jan, Bernice West en Ricus Nel op die verhoog. Nét die regte medisyne om die naweek mee af te skop!

Reën.

Op Saterdag open die hekke om 10:00 vir ’n volgepakte program.

Verskeie demonstrasies word deur die dag op die ABSA Kuierstoep aangebied. Kom leer hoe om wors te maak, herwonne artikels mooi te maak met Tjokopaint, en hoe om kunsaas te maak vir vlieghengel!

Koekversier saam met kykNET sterre, ’n spesiale Mentalist vertoning deur Riaan Loubser en ’n gesellige storie-uur saam met Blouwillem Theron en die Pumas is ook op die program.

Refentse.

In die boma is daar ’n whiskey proe en later in die dag ook ’n skermerkelkie demo en kompetisie. As jy nog nie ’n foto van jouself met die beroemde Curriebeker het nie, kan jy dit ook hier kom neem!

Die manne met die baarde moet ook inskryf vir die Innibos baard-kompetisie. Dié met lang baarde, mooi baarde, stoppelbaarde of woeste baarde staan ’n kans om lekker pryse los te slaan.

Ricus Nel.

Of wil jy dalk kom beenwys in die Boerboel Bene-kompetise? Mans en vroue kan vir dié kompetisie inskryf. Inskryfvorms is op die Innibos webblad beskikbaar.

Vir die kleinspan is daar ’n spesiale kinder-area met ’n voldag program asook ponieritte en visvang. En vir die groter kinders (en hulle pa’s) kan daar in die Klipspringer Buitelug Arena aan aktiwiteite soos boogskiet en teikenskiet deelgeneem word.

Op Saterdagaand se musiekspyskaart is Coenie Naudé, Droomsindroom, Refentse, Irene Louise van Wyk, Snotkop en Soul Taxi wat die fees op ’n vuurwarm noot gaan afsluit.

Kaartjies vir die Innibos Buitelug Familiefees kos R100 vir Vrydag en R150 vir Saterdag. Pensioenarisse betaal slegs R50 en voor-en laerskoolkinders geniet gratis toegang.

Bernice West.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Back to top button