News

Papapavlou moord glo in tronk beplan

Die ma en seun wat daarvan beskuldig word dat hulle saamgesweer het om Raymond Papapavlou (28) te vermoor, is vandag op borg vrygelaat.

Papapavlou is op 4 Oktober 2020 op die plaas Rooikraal, tussen Groblersdal en Stoffberg, in sy bed doodgeskiet.

Calvin Tseka (31) en Paulinah Mamalope Mafatle (57) is op 25 Augustus in Gauteng in hegtenis geneem op aanklag van sameswering om moord te pleeg.
Tseka is Mafatle se biologiese seun.

Paulina Mamalope Mafatle.

Hul borgaansoek is Maandag tot laatmiddag in die hof aangehoor en die saak is uitgestel na vandag, sodat hul borgaansoek voortgesit kan word, weens te min tyd in die hof.

Tseka en Mafatle is verteenwoordig deur mnr. Tabiso Sibanda.

Calvin Tseka.

Hy het hul verklarings voorgelees waarop hul aangedui het dat daar geen hangende sake teen hulle is nie.

Die ondersoekbeampte, adjudant offisier Debbie van Zyl, het getuig dat beide Tseka en Mafatle telefoonkommunikasie met Patricia Ray-Lee Smith en Simoné Papapavlou gehad het. Hulle het ook glo beide fondse van Smith ontvang, voor Raymond se moord.

Smith het ’n liefdesverhouding gehad met Simoné, Raymond se vrou. Daar is verlede jaar in die hof getuig tydens Simoné se borgaansoek, dat die verhouding die motief was vir Raymond se moord, aangesien hy in die pad gestaan het van hul verhouding.

Smith is kort na Raymond se moord in hegtenis geneem en Simoné byna ’n jaar later.

Ná ’n lang hofstryd is Simoné op borg van R15 000 vrygelaat. Haar mede-beskuldigde, Smith, is uit op borg van R5 000.

A.o Van Zyl het Maandag in die hof getuig dat Simoné en Patricia op 22 Februarie 2020, Shane Richard Dean Olivier in die Kgosi Mamupru II-tronk in Pretoria gaan besoek het.

Olivier is die biologiese pa van Simoné en dien lewenslange gevangenisstraf uit vir die moord op sy broer. Hy is ook nou ’n staatsgetuie.

A.o Van Zyl het getuig dat Olivier in sy verklaring as staatsgetuie gesê het dat Patricia en Simoné gevra het of hy iemand ken wat Raymond kan vermoor. Olivier het na bewering vir Phillip Manchidi, ’n medegevangene, aanbeveel.

Patricia Ray-Lee Smith en Simoné Papapavlou.

Volgens a.o Van Zyl het Olivier toe vir Manchidi genader en is daar reëlings getref dat Simoné en Patricia met Tseka en Mafatle in kontak kom vir betalings. Mafatle is ’n vriendin van Manchidi.

Bankstate het getoon dat Smith vir Mafatle deur “Money Market” betaal het en Tseka is betaal van Capitec-bankrekening na Capitec-bankrekening, het a.o Van Zyl getuig.

A.o Van Zyl het ook getuig dat Tseka vanaf 29 September 2020 tot 4 Oktober 2020 in kontak was met die huishulp van Raymond op Rooikraal.

Sy het gesê dat hy glo kontak gemaak het met die huishulp op 4 Oktober 2020 22:25 en dat sy selfoon daarna afgeskakel is tot 6 Oktober 2020.
Volgens haar is Raymond op 4 Oktober 2020 omstreeks 22:50 vermoor.

Sy het getuig dat Simoné en Smith in telefoonkommunikasie was met Tseka en Mafatle ná die besoek aan Olivier tot kort voor Raymond se moord.
Volgens haar het Mafatle aan haar gesê dat Manchidi haar kêrel is. Daar is talle rekords van telefoonkommunikasie tussen dié twee.

A.o Van Zyl meen dat die moord op Raymond maande lank deur sy vrou, Simoné, Olivier en vriendin, Smith, beplan is.
Olivier is intussen na ’n ander gevangenis oorgeplaas aangesien hy ’n wraakaanval vrees, het a.o Van Zyl getuig.

Die hof het Woensdag bevind dat daar nie enige geldige rede is om Tseka en Mofatle in aanhouding te hou nie. Dit sal daarom in die belang van geregtigheid wees om hulle op borgtog vry te laat.

Mafatle en Tseka is op borg van R2 500 vrygelaat. Tseka moet twee keer per week by die Silverton Polisiestasie aanmeld.

Hierdie besluit het gekom nadat a.o Van Zyl gesê het dat hul nie ’n woonadres het vir Tseka nie, aangesien hy by sy werksplek gearresteer is. Hy het in sy verklaring gesê dat hy saam met sy ma woon, maar a.o Van Zyl sê dat die daar net een slaapkamer in sy ma se woning is, aangesien sy die ma by haar woning gearresteer het.

Die saak is uitgestel na 13 Oktober vir ’n akte vanaf die hooggeregshof in Polokwane.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Janine Saayman

Janine has been working as a journalist/photographer since 2014 at the Daller in Groblersdal. She was awarded the O.H. Frewin Upcoming Journalist of the Year in her first year as a journalist. Janine has a passion for photography, writing, being creative and doing things to the best of her ability.
Back to top button