Wanneer Eskom krag afsit, kom skelms uit hul gate
Sodra Eskom die krag afsit, neem misdaad toe.
Die stigter van die Dennesig en Kanonkop Dagpatrollie-groep, Arthur Hill, het inwoners gewaarsku oor ’n toename van misdaadvoorvalle.
Hyself het ’n rowwe nag agter die rug, nadat hy vroegoggend diefstalle en inbrake opgevolg het.
Hy het kort na 02:00 gereageer op noodoproepe van ’n gesin in Njalastraat, waar daar ingebreek is.
Op pad terug van die toneel af, het hy ’n kabeldief betrap, op die hoek van Steve Biko- en Njalastraat.
Die dief is al twee keer vantevore deur veiligheidsgroepe betrap, waar hy in besit van dwelms en gesteelde skrootmetaal was. Die bekende misdadiger mag nie geïdentifiseer word nie, omdat hy nog in die hof moet verskyn.
Mnr. Hill vertel dat die man die rolle kabels mooi uitgelê het, toe hy hom op heter daad betrap. Hy het ook ’n sak vol kabels, ’n saag en gereedskap gehad.
Die polisie is ontbied en die man is gearresteer.
Na die arrestasie het nog ’n inbraak plaasgevind in Gideon Scheepersstraat.
Die eienaar, mnr. Johan Truter, sê dat sy BMW GS 1200 vanuit sy motorhuis gesteel is tydens beurtkrag, kort na 02:00.
Hy is wakker gemaak toe hy hoor hoe sy motorhuisdeur toeklap. Hy het opgevlieg en by ’n ander deur om die huis gehardloop, maar sy afstand gehou, omdat hy gevrees het dat die boosdoeners gewapen was.

Hy kon sien hoe hulle sy motorfiets by die straat af stoot en daarna in ’n Quantam bussie laai. Verskeie pogings om die polisie te skakel, was onsuksesvol.
Mnr. Truter vra indien iemand moontlik inligting het oor sy gesteelde motorfiets om hom te kontak by 082 716 2624.
Dit is ’n blou BMW GS 1200 met registrasienommer: RWN385GP.
Daar was ook ’n inbraak in Helen Josephstraat om 05:00 vanoggend nadat diewe toegang verkry het tot ’n motorhuis en elektriese gereedskap gesteel het.
In Proteastraat is daar helder oordag ’n sweismasjien gesteel, terwyl die eienaar vir ’n oomblik by die huis ingegaan het.
Mnr. Hill moedig Dennesig en Kanonkop inwoners aan op by sy dagpatrolliegroep aan te sluit.
“Ek vra ’n klein fooi, maar dit is net om die onkostes van my diesel te dek. Die doel van die groep is om bedags die twee woonbuurtes veilig te hou terwyl almal werk. Ek fokus alleen op Dennesig en Kanonkop om te sorg dat die areas deeglik beveilig word.”
Indien iemand belangstel om by die Dennesig en Kanonkop Dagpatrolliegroep aan te sluit, skakel 083 870 9693, 084 315 7596 of 060 952 2768.
