Aanvaller het al voorheen met gereg gebots
www.mobserver.co.za het die tweede aanvaller in die wrede moord van mnr. Louie van der Ahee geïdentifiseer.
Hy is ’n bekende moeilikheidmaker wat al voorheen met die gereg gebots het.
Die aanval op mnr. Van der Ahee is nie die eerste waarby hy betrokke is nie. Net soos in mnr. Van der Ahee se geval het hy ’n man wreedaardig geskop en onder andere met ’n hamer geslaan.
Lees ook: Bekende inwoner dood na bloedstollige aanranding op spoglandgoed
Dit is volgens inligting wat www.mobserver.co.za bekom het ook hy wat mnr. Van der Ahee se poniestert met ’n steakmes afgesny het.
Op ’n video wat mnr. Van der Ahee gemaak het, noem hy twee broers se name, waarvan een reeds gearresteer is. Hy noem ook die naam “Brian”.
www.mobserver.co.za het die “Brian” wat ons vermoed by die aanval betrokke is, sedert gisteraand gebel, maar sy selfoon bly af.
Hy het intussen aan vriende gesê dat sy selfoon weg is.
Lees ook: Slagoffer sê op video wie hom doodgeslaan het
Daar kon ook vasgestel word dat hy ’n woonstel in die Middelburg omgewing huur.
Die twee aanvallers het ook volgens inligting reeds samgespan en beweer dat hulle in noodweer opgetree het, nadat mnr. Van der Ahee hulle met ’n mes aangeval het.
Die aanvallers se name kan nie bekend gemaak word voordat hulle in die hof verskyn het nie.
