Hotel een van multi-miljoen beleggings wat die “middel” terugsit in Middelburg
Middelburg bly nou maar een maal ’n dorp waar dinge raakgevat word.
Ten spyte van die onlangse munisipale staking floreer sake op die dorp.
Om mee te begin, is die naam Middelburg, ’n goeie aanduiding van die voorvaders se insig.
Die kerkdorpie is gestig omdat dit die middelpunt was tussen Pretoria en Lydenburg.
Strategies, is die dorp goed geleë en ook ’n voorkeurroete na provinsies soos Limpopo.
Die dorp is dus vir beleggers ’n droombestemming.
Mens hoef net te kyk na die beleggings wat reeds hier gemaak is, soos die nuwe Radisson Hotel in aanbou langs die Middelburg Mall.
Akani Eiendomme wat hande met Radisson gevat het vir die vestiging van die hotel, sê Middelburg is gekies omdat die dorp “kosmopolities” is. Met mynreuse wat se belange wêreldwyd strek, sê mnr. Zamani Letjane, Akani groepsbestuurshoof.
Dit is Akani se eerste ontwikkeling in Mpumalanga, met ander belange in Gauteng, Noordwes en die Vrystaat.
Die Middelburg hoëveld is ook Eskom se setel, en met die energiereus se planne om Arnot en Hendrina kragstasies ’n nuwe, skoner, baadjie te gee, sal meer internasionale beleggers na Middelburg stroom om alternatiewe energiebronne hier te kom voorstel.
Internasionale maatskappye soos Babcock het Middelburg ook gekies om sy R100 miljoen, 30 000m² konstruksietoerusting maatskappy te vestig.
Wie sou ooit kon dink Twizza sal die dorp uitkies as voorkeur belegging.
Twizza maak geen geheim van die feit dat Middelburg die beste geleë is in ’n landwye verspreidingsnetwerk, met nog koeldrankfabrieke in Queenstown en Kaapstad.
Nashua het ook nou besluit om uit te brei op sy reeds reuse hoofkantoor langs die Mall.
Die Middelburg-tak, Nashua Mpumalanga het ook twee ander takke, Nashua Laeveld en Nashua Hoëveld.
Op eie bodem het die Nashua groep van Junior van Niekerk nou te klein geraak, en derhalwe is vyf erwe langs die bestaande Nashua gebou aangekoop, waar nog kantore, die groep se solar-maatskappy, ’n onafhanklike makelaarsmaatskappy en ander besighede opgerig sal word.
Advanced Energies Africa het ook onlangs die deure van sy reuse afset in Middelburg vanuit die Kaap geopen.
Die Alzu-groep van Middelburg wat selfs multi-miljoen rand belange op die dorp het, is een van Advanced Energies Afrika se grootste aandeelhouers.
Advanced Energies Africa sê Alzu se voetspoor is reeds so gevestig, dat dit ’n logiese besigheidsbesluit was om sy fabriek hierheen te skuif.
