Gert Lindeque van alle blaam onthef na geveg tydens Noordvaal eindstryd
Hoërskool Rustenburg het 'n persverklaring uitgereik waarin hy sy adjunkhoof, mnr. Gert Lindeque van alle blaam onthef na 'n geveg tydens die o/15 Noordvaal eindstryd teen Hoërskool Middelburg.
Daar is onder andere beweer dat mnr. Lindeque ‘n speler van Hoërskool Middelburg geslaan het.
Die persverklaring lei:
Beheerliggaam van Hoërskool Rustenburg se ondersoek na gewelddadige voorval by
skolerugbywedstryd afgehandel.
’n Ondersoek na ’n voorval tydens ’n rugbywedstryd tussen die o/15A-spanne van die Hoërskool
Rustenburg en die Hoërskool Middelburg het geen bewyse opgelewer dat volwassenes, insluitend
personeel, minderjarige spelers aangerand het nie.
“Die twee spanne het in die plaatfinaal van die Noordvaalbeker gespeel.
Op die videomateriaal kan gesien word hoe ’n klomp toeskouers op die veld storm toe die eindfluitjie blaas.
Daar was ’n geruk-en-pluk tussen ’n groot groep mense.
Na aanleiding van die insident is daar ongegronde aantygings jeens RHS se afrigters gemaak.
Die voorval is sederdien deeglik ondersoek en daar is ‘n volledige verslag saamgestel.
Daar is met RHS-leerders, afrigters en ander ooggetuies gepraat. Foto’s en videos wat tot die ondersoekkomitee se beskikking was, is ge-analiseer om uit te pluis wat gebeur het,” sê mnr. Bernhard Visser, voorsitter van die beheerliggaam van die Hoërskool Rustenburg.
Die ondersoek is gelei deur die beheerliggaamslid vir sport, Mnr Shaun Robinson en is ondersteun deur die rugby-direkteur Mnr Naas Olivier.
Die skoolbeheerliggaam van die HoërskoolRustenburg keur gewelddadige gedrag ten sterkste af.
“Ons leerders se veiligheid is egter ons eerste prioriteit. Indien daar bewyse is wat daarop dui dat RHS-spelers se veiligheid in gedrang gebring is, is dit ons plig om toe te sien dat hierdie bewyse beskikbaar gestel word, behoorlik ondersoek word en dat daar teen skuldiges opgetree word.” sê Visser.
Die verslag het bevind dat die aantygings teen Mnr Gert Lindeque, adjunk-hoof sport en Mnr Berto Van Wyk, mede-afrigter van die onder 15A rugbyspan ongegrond was en is hulle derhalwe onskuldig bevind.
“Dit is sleg dat ons in ‘n samelewing opereer waar die publiek sonder die nodige feite, bevindings kan maak waardeur mense in die openbaar skuldig bevind word en daar dan ongegronde sosiale media uitsprake gemaak word.
Dit raak reputasies en stel die skool, personeel en ander mense in ‘n slegte lig waar die feite die
teenoorgestelde bewys!” sê Visser.
Hy brei uit dat hulle na dese met die beheerliggaam van Hoërskool Middelburg in gesprek gaan treë
ten einde te verseker dat soortgelyke insidente tussen die twee skole nie herhaal sal word nie.
Daar is ook ‘n lys van voorstelle wat met die organiseerders van die toernooi bespreek sal word om
sodoende toekomstige risikos te help beperk.
“Ek hoop ons sal kan saamwerk om die voorval as ‘n leerskool vir ander skole te gebruik.”
“Insidente soos hierdie hoort nie tuis by skolesport nie. Sportmanskap is by RHS vir ons baie belangrik en enige kompetisie moet in ‘n goeie gees plaasvind.”
