Plek van Toevlug nou Plek van Verval
Botshabelo se gemeenskap sit steeds met die hoop dat die Steve Tshwete Munisipaliteit tot sy redding sal kom en die Plek van Toevlug sal regruk, maar dis ’n verlore droom.

Die grondeis op Botshabelo, wat die Middelburg vliegveld insluit, is in 2005 toegestaan.
Sedertdien, is die eertydse, selfonderhoudende dorpie, in totale verval.
Heyns Theron van Mpumalanga Erfenis sê Covid-19 het die eermalige internasionale toeriste aantreklikheid moontlik van verdere verval gespaar.
Sedert die munisipaliteit onttrek het by Botshabelo, is nog net restourasiewerk aan die kerk wat in die 1860’s gebou is gedoen, nadat die dak inmekaar getuimel het.

Intussen is die ondergrondse kragkabels gesteel, en sit Botshabelo in die donker.
Met die vertrek van die kleurvolle Ndebele vroue, wat wêreldberoemde Esther Mahlangu ingesluit het, was daar niks wat toeriste daarheen getrek het nie, omdat oornagfasiliteite nie meer beskikbaar was nie.

Die restaurant is summier gesluit en die kampeerterrein is gestroop van bome.
Die rivier is boonop een vrot rioolstroom.
In die nuutste nuusbrief van Mpumalanga Erfenis merk mnr. Theron op dat daar bloot ’n gehug of twee opgeslaan is sedert sy laaste besoek, voor die Covid grendelstaat.
“Die kerk se toringdeel se dak gee egter in, en die stalle agter die kerk het ingeval van vermoedelik die veldbrand wat aan die Noordhang gewoed het,” sê mnr. Theron.
Die kerk se geelhoutbanke, die loodglasvensters en deure is darem nog daar.

“Die meeste artefakte soos die ou petrolpomp en landbouimplemente in die populierbos, asook die skoolklok, het behoue gebly.”
Mpumalanga Erfenis is veral besorg oor Fort Merensky, ’n nasionale monument, wat mnr. Theron sê steeds staan, behalwe vir die vloer en leër van die uitkyktoring, wat afgebreek is vir vuurmaakhout, wat sommer in die fort gestook is.
“Daar is nog water in die krane en selfs ’n paar oorspronklike koperkrane. Die teehuis word steeds bewoon maar al lewe was ’n skaam, verhongerde brak,” lig mnr. Theron medelede in.
“Dit lyk nou of die reservaat net deur beestroppe bewei word waar ’n brand nie die gras vernietig het nie en enkele nuwe tydelike en
permanente strukture is tussen die toegangshek en dorpie aan die verrys”.
Verder is “die begraafplaas en lewende Suid-Ndebelemuseum oorkant die Klein Olifants steeds morsdood en, nes met die
vorige besoek aan die verval. Dit is nou die loopplek van boerbok en skaap se kinders”.
Mnr. Theron sê die Klein Olifantsrivier is ’n skuimende rioolstroom en die woonwapark se reuse bloekoms is afgesaag.
“Fort Merensky staan nog steeds en wag vir sy eerste geveg,” sê mnr. Theron met ’n uitdaging aan die dorp se skole om die uitkyktoring se vloer en leer te help herstel.

“Die gebrande wegwyser getuig van die verwaarlosing wat veral in die dorpie duidelik is”.
Mpumalanga Erfenis se hande is egter gebind met die privaatbesit van Botshabelo, en die groep monitor nou bloot die hartverskeurende verval.
• Kry jou nuutste uitgawe van die Middelburg Observer vir verdere beriggewing oor Botshabelo.
• Foto’s deur Matt Handley.
•Botshabelo beteken “Plek van Toevlug”.

