“Wonderwerk” dat Brian Clarke leef
Vriende van die omstrede Brian Clarke sê dis ’n wonderwerk dat hy Saterdagmore lewend uit die wrak van sy BMW op die Loskopdampad gehaal is.

Sy seun was saam hom in die voertuig ten tye van die botsing, maar is ook nie ernstig beseer nie.
Intussen word mnr. Clarke steeds in die Middelburg Hospitaal behandel.
Hy het ’n harde hou teen die kop weg en het ook borsbeserings in die impak van die botsing opgedoen.

Mnr. Clarke het omstreeks 02:45 Saterdagmore, met ’n VW Polo naby die vulstasie voor Doornkop gebots.
Die insittendes van die Polo het wonderbaarlik ook sonder beserings uit die wrak geklim.
Foto’s van mnr. Clarke se BMW wat aan www.mobserver.co.za verskaf is, wys dat daar beslis ’n Hoër Hand oor mnr. Clarke en sy seun was tydens die ongeluk.
Bewerings van “swaar alkohol misbruik” teen beide bestuurders word gemaak deur getuies op die toneel.
Daar word ook verneem dat die polisie mnr. Clarke reeds in die hospitaal besoek het.
