News

Seekoeibul op agterpote en al happende

Die dorp se twee wandelende seekoeie, wat vir meer as ses maande eers in die Klein Olifantsrivier en later in die Olifantsrivier en plaasdamme rondgekuier het, is gisteraand gevang.

Hulle is na ’n wildsplaas in die Brits omgewing vervoer.

Mnr. Piet Wassenaar (wat ’n permit het van die Mpumalanga Toerisme en Parke Agentskap, om hulle te help met probleemdiere) het laat weet dat die seekoeie uiteindelik gevang is.

Die seekoeie was die afgelope tyd in mnr. Jumbo van der Merwe se plaasdam, op die Zaaihoekpad, buite eMalahleni.

Hulle was ’n ruk terug ook daar en toe hulle terugkeer, is ’n elektriese heining om die gebied aangebring.
Daarna is ’n boma gebou om hulle in te lok.

Mnr. Wassenaar sê hulle het verlede Donderdagaand ook gepoog om die twee te vang.

Die bul het mooi ingegaan, maar die koei was te naby aan die hek en hulle het weens veiligheidsredes besluit om die vangs later te doen.
Gisteraand het albei die seekoeie by die boma ingegaan.

Die diere is deur die Mpumalanga Toerisme en Parke Agentskap se veearts ’n kalmeermiddel toegedien, tydens die vangproses.

“Ons het hulle nie verdoof nie en die seekoeibul het op sy agterpote gestaan en na ons gehap. Gelukkig het alles goed verloop en nie mens of dier is beseer nie.”
Hy het verneem dat die seekoeie veilig by hul eindbestemming aangekom het.

*Mnr. Wassenaar wil elke persoon bedank wat hom die afgelope ses maande gekontak het met nuus waar die seekoeie hulle bevind.

Hy sê ook dankie aan almal wat in die tyd wat hulle in die dam afgesper is, vir drie weke bydraes gegee het vir kos.
Dit het daagliks meer as R500 beloop en hulle het uit alle oorde skenkings gekry.

’n Woord van dank gaan aan SG Coal wat ’n masjien beskikbaar gestel het sodat slote gegrou kon word vir die trokke en bomas tot by die dam.

Hy kan ook nie genoeg dankie sê vir die ongelooflike werk wat die MTPA gedoen het in al hierdie maande om te verseker dat die seekoeie en ook mense veilig kon wees nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button