Wie is familie van man wat al nege maande in lykshuis lê?
Speurkonstabel Palesa Mofokeng van Secunda sê dat die 32-jarige man wie se liggaam op 6 Januarie by ’n taxi-staanplek op die dorp gevind is, nog steeds nie uitgeken is nie.
Dit ten spyte daarvan dat die polisie hom met behulp van sy vingerafdrukke kon uitken.
Familie van die man het egter nog nie na vore gekom nie en hy sal nou ’n staatsbegrafnis moet kry.
’n Nadoodse ondersoek het bevind die man is dood weens ’n oordosis dwelms.
Nadat vingerafdrukke by hom geneem is, het die polisie op ’n string vorige arrestasies op sy naam afgekom.
Meeste hiervan was in Middelburg wat die vermoede laat ontstaan, dat hy van hier af is.
Hy is ook al vantevore in Potchefstroom en Barberton gearresteer.
Konstabel Mofokeng sê dat die adresse wat hy tydens sy plaaslike arrestasies aan die polisie en howe verskaf het, besoek is maar dat niemand hom herken het nie. Hy het bruin-blonde hare en ’n onidentifiseerbare tatoeërmerk.
Hy was geklee in ’n blou T-hemp, swart broek en skoene, met ’n kamoefleer-keps op die kop, toe hy gevind is.
Nog die Oorwinnaars huis vir dwelmverslaafdes en nog Hope Corner kon met die ondersoek help, nadat beide bevestig het dat die man se van nie ’n klokkie lui nie.
Konstabel Mofokeng sê dat sy nou sal aanvra vir ’n bevel tot ter aarde bestelling.
Die grafte word gemerk indien familie later navore sou kom.
