News

Oorledene in Secunda lykshuis uitgeken

Navrae van so wyd as Mbombela en Ellisras stroom in oor die liggaam van ’n 32-jarige man wat sedert Januarie in Secunda in die lykshuis lê.

Die man is intussen positief geïdentifiseer as Gerhard Ettienne Venter, wat op 13 Augustus 1990 gebore is.

Die polisie in Secunda het ook ’n foto van hom vrygestel in ’n poging om sy familie op te spoor.
Die familie is op pad na Secunda om ’n formele uitkenning te doen en sy liggaam op te eis.

Volgens polisie se rekords is ’n adres in Jakarandastraat op Middelburg tydens een van die arrestasies deur die oorledene verskaf.
Die adres is besoek maar geen naasbestaandes kon opgespoor word nie.

Volgens polisie is mnr. Venter op 6 Januarie dood in ’n taxi-staanplek gevind.
’n Nadoodse ondersoek het bepaal dat hy aan ’n oordosis dwelms beswyk het.

Sy vingerafdrukke is tydens die nadoodse ondersoek geneem, waarmee hy positief tot talle vorige arrestasies verbind is.
Daar was ook ’n adres in Barberton tydens ’n vorige arrestasie opgegee.

Www.mobserver.co.za het reeds met sy naasbestaandes gepraat wat bietjie meer lig op die tragiese omstandighede gewerp het.

Volgens sy suster, wat vra dat die familie nie geïdentifiseer word nie, het hulle agt jaar laas kontak met mnr. Venter gehad.

Hy is verskeie maal deur familielede ingeneem met die voorwaarde dat hy van dwelms afsien, en geensins die kinders aan dwelms blootstel nie.
“Hy het nooit by die reëls gehou nie,” sê die suster.

Die laaste wat mnr. Venter se familie van hom gehoor het, was toe hy in Carltonville was.

Hy was op Laerskool Koornfontein en in verskeie hoërskole, waar hy gereeld weggeloop het.
Sy laaste hoërskooljaar was in Standerton.

Beide sy ouers leef nog en is “stukkend” oor die wending wat sy lewe geneem het.
“Geen ouers verdien die swaarkry en lyding nie,” het mnr. Venter se suster gesê.

Intussen stroom navrae steeds in uit alle oorde van besorgde ouers, familielede en vriende van talle verslaafdes, in die 32-jarige ouderdomskategorie, waarna daar steeds gesoek word.

In Ellisras word daar na Trevor van Stryp gesoek. Hy pas die polisie se vorige beskrywings van die Secunda oorledene.

Me. Linda du Toit het ook geskakel met die vermoede dat dit dalk haar seun, Marmaduke (Duke) Costello Prinsloo is.
Duke het onder meer ook in Secunda, waar die liggaam gevind is, saam met sy ma gewoon.

’n Vrou het ook uit eMalahleni geskakel om te hoor of dit nie ’n familielid van haar man is wat verdwyn het nie.
Daar is intussen vasgestel dat die oorledene nie die familielid is nie.

Back to top button