Nege maande in lykshuis: Moord kan nie uitgesluit word nie
’n Verassingsdiens sal gehou word vir Gerhard Ettienne Venter (32), wie se familie hom gister na jare op straat in die Secunda lykshuis uitgeken het.
Mnr. Venter is op 6 Januarie dood in ’n taxi-staanplek in Secunda gevind.
Sy familie het maandelank na hom gesoek, selfs in Durban.
Hoewel dwelms moontlik ’n rol in sy dood kon gespeel het, het die ondersoekbeampte in die saak, speurkonstabel Palesa Mofokeng, vandag bevestig dat gemene spel nie uitgesluit word nie.
Die nadoodse ondersoekverslag is nog nie deur die patoloog vrygestel nie, omdat mnr. Venter gister eers formeel uitgeken is.
Die dossier sal nou, met die insluiting van die nadoodse ondersoekverslag, afgesluit word, voordat dit hof toe sal gaan, vir ’n beslissing.
Indien aanklaers vind dat daar gronde is vir verdere ondesoek sal ’n moordklag geregistreer word.
Mnr. Venter se liggaam is met verskeie kneuswonde en ander beserings aangetref.
Die familie het gevra dat hul privaatheid gerespekteer word.
