News

Jan breek weer saam brood

Oud Hoërskool Middelburg leerling, Michelinster-sjef, Jan Hendrik van der Westhuizen, is terug op eie bodem en het ’n klein 1712-plaashuisie in ’n laventelveld omskep in iets manjifieks, en nou nooi hy van sy beste gaste oor vir dié koservaring van ’n leeftyd.

Kom sit aan vir die splinternuwe seisoen van JAN RSVP.

Soos kykers al gesien het in die vorige seisoene van die VIA-reeks, JAN, gebruik hy sy land as inspirasie vir die disse in sy restaurant in Nice, Frankryk.

Waar hy gewoonlik idees kry uit ou Suid-Afrikaanse kookboeke óf unieke produkte van die markte in Europa, vind hy die keer sy inspirasie by die mense wat hy ontmoet en mee tyd spandeer.

In die nuwe seisoen is samesyn die deurlopende tema wat Jan vier. In die gerestoureerde plaashuisie dek hy die tafel vir legendariese gaste en ’n samekoms van kulture en herinneringe.

Vir elkeen van sy spesiale gaste maak Jan ’n dis wat geïnspireer is deur die gaste se eie stories en wese, wat dan op die spyskaart van JAN in Nice bedien gaan word.

Saam maak hulle kos, praat oor die lewe, ou resepte, tradisies en disse wat hulle onthou.

Die gaste wat hulle kosgeheime en ou familieresepte kom deel, sluit bekendes soos Coenie de Villiers, Ina Paarman, sjef Mokgadi Itsweng en Tannie Evita
Bezuidenhout in.

Volgens Jan Hendrik van der Westhuizen is JAN RSVP een van die mees opwindende projekte waaraan hy al gewerk het.

“Ons het bande gesmee op die enigste manier wat ek ken – deur saam brood te breek om mooi gedekte tafels. Ons het gepraat oor die lewe, liefde en alles tussenin.”

Azelia Morkel, kanaalhoof van VIA TV, is opgewonde oor hierdie reeks en meen dat “kykers meegevoer gaan word deur elke minuut van hierdie program”, en dat VIA baie uitsien na die verloop van die seisoen.

Dié seisoen wat in die Boland verfilm is, sal wéér jou asem wegslaan soos jy saam nostalgies raak.

Vanaf 16 Oktober, Sondae om 20:30 op VIA (DStv-kanaal 147), met heruitsendings op Maandae om 22:00. Dié seisoen sal op Catch-up asook Showmax beskikbaar wees.

Back to top button