Knoesen lewenslank tronk toe vir terrorismedade
Crusaders terroris en haatpastoor, Harry Knoesen, is sopas twee lewenslange vonisse in die hooggeregshof op Middelburg deur regter Johanne Mthimunye opgelê, vir die beplanning en opsweping van terrorismedade.
Hy het op elk van die twee klagtes lewenslange vonisse ontvang en ’n addisionele 15-jaar gevangenisstraf vir werwing van Crusaders lede, en drie jaar elk vir die onwettige besit van ’n wapen en ammunisie.
Al die vonisse sal samelopend uitgedien word.
Knoesen het dadelik ’n aansoek om appèl gebring wat deur die staat, verteewoordig deur advokate Ansie Venter en Derik Rowles, en regter Mthimunye, afgekeur is.
Regter Mthimunye, wat tot dusver agteroor gebuig het om Knoesen te akkommodeer, het vandag ’n strenger kant gewys, ten spyte van pleidooie vir die hof se genade van ’n “ou, sieklike man, wat al bykans drie jaar agter tralies sit”.
Advokaat Rowles sê dat Suid-Afrika in ’n burgerloorlog gewikkel sou wees as Knoesen se planne om miljoene swart Suid-Afrikaners uit te moor op Swart Vrydag in 2019, gerealiseer het.
Knoesen wou onder meer swart woongebiede se waterbronne vergiftig en het volgelinge gevra om mede Suid-Afrikaners lukraak in die strate af te maai, om die “donker groenes met sprinkaanbreine” se nommers af te bring.
Lees ook: Bomme uit die lug en gif in die drinkwater – kriminoloog getuig
Advokaat Rowles het geargumenteer dat, as daar na wêreldwye terrorisme aanvalle gekyk word, dit ’n “klein aantal radikales is wat duisende lewens ontwrig”.
Volgens advokaat Rowles was die Mangaung terrorisme planne en die boeremag terrorisme plan, deur kleiner groepe as Knoesen se Crusaders beplan.
Die feit dat Knoesen steeds nie verantwoordelikheid neem vir sy rassistiese aanvalsplanne en berou toon nie, is voorts ’n klinkklare bewys dat hy nie-rehabiliteerbaar is nie, sê advokaat Rowles.
Regter Mthimunye het saam met hom gestem, en Knoesen tydens die vonnisverrigtinge op sy uitbarstings in die hof gewys, as dinge nie in sy guns gegaan het nie.
Vanoggend se profielsamestelling van Knoesen deur die wêreldgerespekteerde kriminoloog, dr. Gerard Labuschagne, het selfs ’n donkerder prentjie van ’n inherente rassis met vervolgingswaan geskep.
Nie net haat Knoesen sekere volksgenote nie, hy haat ook Afrikaners omdat hy as seun geboelie is en sy ma glo deur verskeie Afrikaner mans mishandel is tydens sy grootwordjare.
Regter Mthimunye het Knoesen se verweer dat sy oproepe tot ’n staatsgreep en geweld daarop gemik was om verregse Afrikaners te ontstel verwerp, en gesê dat sy rassistiese propaganda net op swart Suid-Afrikaners gemik was, en hy bloot na verregse landgenote verwys het as lafaards wat nie volksmoord wil pleeg nie.
Sy het die feit dat hy die Bybel en Goddelike visoene gebruik het om lede te werf en homself op te hemel as “gesalfde redder van die wit volk,” as verswarend gesien.
Sy het hom ’n slinkse manipuleerder genoem, wat ’n gevaar vir die land en sy demokrasie inhou.
Knoesen het tranerig gevra dat hy asseblief in die Paxton gevangenis kan bly, waar hy gemaklik ingerig is, maar die regter het dit ook van die hand gewys.
Www.mobserver.co.za het betroubaar verneem dat ’n Kanadese dokumentêr oor Knoesen en die Crusaders reeds in vervaardiging is.
