News

VIDEO: Swembadchaos – Honderde kinders dans en suip, urineer en ontlas

’n Partytjie uit die hel waar mense in strate om Kees Taljaardpark gedans, gesuip, urineer, ontlas, met voertuie deur die Klein Olifantsrivier gejaag en gras in openbare ruimtes aan die brand gesteek het, het hom die naweek afgespeel.

Oorverdowende musiek kon Sondag nog laatnag gehoor word terwyl die omgewing Maandagoggend soos ’n varkhok gelyk het.
Inwoners is in hulle eie huise vasgevang met taxis wat in hulle rylane parkeer het.

Klaers van Impala- en Bokmakieriestraat het op strepe geskakel vir ingryping deur die polisie en munisipale wetstoepassingseenheid om partytjies wat hand uitgeruk het by die munisipale swembad te stop.

Minibusse vol gillende kinders, voertuie en braaiers het inwoners van beide strate se opritte geblok.

Een inwoner sê dat hy die polisie en munisipale wetstoepassingseenheid herhaaldelik geskakel het, sonder sukses.
Volgens die inwoner het daar wel later munisipale wetstoepassers opgedaag, “maar hulle het soos lafaards gevlug”.

Die betrokke inwoner het ’n babaseuntjie wat nie tot rus kon kom nie, weens die geraas.

Besoekers in hul honderde het op die swembad toegesak.

Sondag is die chaos voorgesit met ’n drinkery in die openbaar.

Vure is selfs op die stadion se grasperk rondom die tennisbane gestook.

Vanoggend het die area soos ’n oorlogsone gelyk met al die drankbottels en wegneemete pakkies wat die grasperke ontsier het.
Sedert die munisipaliteit ongeveer twee jaar gelede die area om die swembad omhein het, stop voertuie nou op die sypaadjies.

Daar word gereeld op inwoners se grasperke oorkant die swembad geurineer en ontlas omdat besoekers nie die swembad se toegangfooie wil betaal om toilette te besoek nie.

Die meerderheid besoekers sit eerder buite die swembad en drink en braai.

Minibusse ry vragte vol minderjarige kinders daar aan gedurende die naweek.
Saterdag en Sondag het verskeie minibusse Impalastraat toeparkeer.

Inwoners kon nie uit hul erwe nie.

Boonop raak die partytjiegangers aggressief as hulle aangespreek word.

Kinders het Saterdagaand tot na 18:00 in hordes in Impalstraat gedans om die minubusse waaruit musiek geblêr het.

Selfs Kanonkop se wyskraadslid Helda de Klerk se hulp is bepleit.

Dit was aan haar toedoen dat die swembad na jare se gefuif eindelaaste omhein is.
Nou doen die munisipale wetstoepassers nie hulle werk nie.

Skrikwekkende videos van Saterdag sal ander inwoners se nekhare laat orent staan.
Inwoners was soos gevangenis in hul huise vasgekluister.

Die drama volg minder as ’n week nadat die munisipaliteit waarskuwingsborde langs die Klein Olifantsrivier, soos op die Middelburg Observer se voorblad laasweek berig is, opgerig is.

Volgens die waarskuwingsborde sal rommelstrooiery, die uitpak van braaiers (wat beskikbaar is rondom die rivier en swembad), oop vure, luide musiek en openbare onsedelikheid (in die geval hoofsaaklik kinders), en openbare urinasie met R2000 beboet word.

Ongelukkig het wetstoepassers geskitter in hul afwesigheid by die swembad en die rivier.

Me. Prudence Magutle, van die munisipaliteit, sê dat die optrede verkeerd is en deur die munisipaliteit veroordeel word.

“Die swembad is daar vir mense om te geniet en nie om omliggende inwoners se lewens moeilik te maak nie,” sê sy.
Sy sê openbare drinkery is teen die wet en dat daar beslis opgetree sal word.

“Besoekers mag ook nie op die sypaadjies en in die strate parkeer nie, dis eenvoudig verkeerd,” sê sy.

Sy het beloof om die videos en fotomateriaal van die chaos onder die aandag van munisipale bestuurder, Mandla Mnguni, te bring, sodat klagtes aangespreek kan word.

Intussen oorweeg inwoners ’n petisie om die munisipaliteit te dwing om op te tree.

@middelburgobserver

Partygoers show no regard for residents near Kees Taljaard pubic pool

♬ original sound – MiddelburgObserver

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Gerhard Rheeder

I have been a journalist for two decades, with numerous awards to my credit, both in photography and writing. A brief stint as researcher in the opposition offices of the Mpumalanga Provincial Legislature, honed my skills as specialist local government reporter, covering crime and courts.
Back to top button