Jaagduiwel blaas byna ’n vloot voertuie op
Net millimeters vanaf ’n massiewe botsing, het ’n roekelose bestuurder uitgeswaai en in ’n grondpad verby gejaag.
“Ek het springstof agterop my bakkie gehad en as ons mekaar trompop getref het, sou baie mense dood gewees het,” het mnr. Herculaas Taljaard hierdie week omgeskrap gesê.
Hy beleef daardie oomblikke soos ’n rolprent oor en oor.
“Ek het so geskrik dat ek eers van die pad af moes gaan en stop. Die man wat amper die ongeluk veroorsaak het, het egter net verby gejaag. Hy het nie eers gestop om verskoning te maak nie.”
Mnr. Taljaard het Vrydagoggend vanaf Eikeboom Myn ingedraai op die Hendrinapad in Middelburg se rigting om Belfast toe te ry, om springstof af te lewer.
Sowat 20km buite die dorp (om 07:05) het hy gesien hoe ’n wit enkelkajuit Toyota bakkie skielik verskeie voertuie en trokke vanaf die aankomende verkeer op ’n sperstreep begin verbysteek.
“Hy het ses of sewe karre verby gegaan en ook van die trokke verbygesteek. Hy moes kon sien hy kan dit nie maak nie, maar het net aangehou ry.”
Mnr. Taljaard het besef ’n trompop botsing is onafwendbaar.
“Een trok het van voor af by my verby gegaan en die ander een het begin remme aanslaan, omdat hy gesien het wat gaan gebeur.”
In die daaropvolgende paar sekondes moes hy vinnig dink.
“Ek het oorbeweeg in die aankomende baan in, maar moes weer terug gaan in my baan in, om nie die ander verkeer te tref nie. Hy het egter nogsteeds op my afgejaag.”
Net voor die botsing sou plaasvind, wou mnr. Taljaard met sy Mahindra bakkie van die pad af beweeg op die grond langs die teerpad.
“Hy het dieselfde besluit en ek het my bakkie teruggeruk. Hy is byna teen my op die grond langs die pad verby.”
Die bakkie het só naby aan hom verby gekom, dat hy duidelik kon sien dat daar drie insittendes in die kajuit is en nóg ’n klomp mense in die bakkie se kappie.
“Dink net wat sou gebeur het! Ek is dankbaar ek en al daardie mense leef vandag!”
