Geheimhoudings rondom Knoesen se toekoms in aanhouding
Harry Knoesen, wat tot lewenslange tronkstraf gevonnis is vir die beplanning en opsweping tot terrorisme aanvalle, is steeds in alleenaanhouding in die eMalahleni gevangenis bekend as Paxton.
Volgens korrekteiwedienste se Opheliah Motloutsi word hy net tydelik daar aangehou omdat hy na ’n maksimum-sekuriteitsintelling verskuif moet word.
Paxton is ’n medium-sekuriteitsinstelling, waar Knoesen die afgelope vier jaar as verhoorafwagtende in isolasie aangehou is.
Knoesen het tydens sy vonnisoplegging by regter Johanne Mthimunye gepleit om hom in Paxton te hou.
Sy het egter gesê dat dit buite haar magte as regter val, maar tydens verhoor gelas dat hy daar bly, nadat die staat versoek het dat hy Middelburg toe oorgeplaas word.
Me. Motloutsi sê dat Knoesen binnekort verskuif sal word na ’n maksimum-sekuriteitsgevangenis.
Sy wou egter nie sê waarheen, en wanneer, Knoesen geskuif sal word nie.
“Weens veiligheidsgevare vir Knoesen is korrektiewedienste nie by magte om inligting rondom die verskuiwing te verskaf nie,” sê me. Motloutsi.
Sy sê net Knoesen se naaste familie sal ingelig word waar hy besoek kan word, sodra die verskuiwing plaasgevind het.
Korrektiewedienste is tans besig met veiligheid-assesserings by sy maksimum-sekuriteitsinstellings, om te bepaal waar Knoesen die veiligste sal wees.
’n Besluit oor of hy in alleenaanhouding, of in ’n gemeenskaplike sel aangehou sal word, is ook nog nie geneem nie.
Daar is ook nog nie besluit watter rehabilitasie programme vir Knoesen aanbeveel sal word in aanhouding nie.
Die hof het egter gehoor dat korrektiewedienste tans geen rehabilitasieprogramme vir terreur het nie.
