News

Dwelmslaaf vloek bejaardes, steel glo kettingsaag

Die bekende dwelmslaaf, Frankie Swart (34), is terug op Middelburg en word reeds beskuldig dat hy oor mure loer en bejaardes vloek, omdat hulle nie vir hom wil geld gee nie.

Mnr. Arthur Hill, die stigter van Dennesig en Kanonkop Dagpatrollie, vertel dat hy gister vir Frankie in Blesbokstraat betrap het, waar hy oor mure staan en loer.

Toe mnr. Hill hom konfronteer, het hy beweer dat hy net tydelik terug is op die dorp om persoonlike sake te hanteer, en dat hy nog die selfde aand sal terugkeer na Pretoria.

Toe mnr. Hill navraag doen by die huiseienaar van Blesbokstraat, het hy beweer dat Frankie vroeër die week oor sy muur gespring en ’n kettingsaag gesteel het.

Frankie het hoog en laag gesweer dat hy sy streke sal laat staan, maar is vanoggend vroeg in Morkelstraat gesien, waar hy ’n groep bejaardes gevloek het, omdat hulle nie vir hom wou geld gee nie.

“Ek ken vir Frankie baie goed. Ons het vir lank op ’n daaglikse basis met hom gesukkel. Voordat hy na Pretoria vertrek het, het ek hom minstens 14 keer gevang en aan die polisie oorhandig. Maar hy word ook elke keer laat gaan.”

• Daar is al talle keer oor Frankie berig. Hy is in Februarie in Pretoria Noord gearresteer vir dwelmbesit. Sy ma, Mariaan, het ook vertel dat hy kristal metamfetamien gebruik.

• Ds. Ferdie Devenier van die Evangelies Gereformeerd Kerk het ook al ’n saak van diefstal teen Frankie geopen, nadat hy die kerk se greedskap gesteel het. Frankie het tydelik vir die kerk loswerkies gedoen en homself voorgedoen as Steven Lottering.

Mnr Hill vertel dat hulle ook tans leidrade opvolg rondom die aanhoudende kabeldiefstalle wat Dennesig en Kanonkop gereeld sonder krag laat.
“Ons is bewus van twee bekende dakloses wat betrokke is by die kabeldiefstalle en hou hulle noukeurig dop.”

Mnr. Hill het gewaarsku dat misdaad geweldig toeneem, en dat haweloses betrokke is by die steel van kragkabels.

“Ek kan voorspel dat misdaad gaan vererger, veral oor die Desember tydperk.”

Hy moedig inwoners aan om aan te sluit by sy Dennesig en Kanonkop Dagpatrollie groep, waar hy vir ’n fooi bedags patrollie ry en lede se huise bewaak. Hy kan gekontak word op 083 870 9693 of 060 394 7435.

Back to top button