Dit is vanjaar 30 jaar gelede dat die jong sendeling aangerand en daarna met ’n pistool in die kop geskiet is.
Na sy moord was daar talle vrae en bewerings.
Een wat nooit bevestig kon word nie, is dat hy asof in ’n “kruisigingsposisie”, op die plaas Roodeplaat agtergelaat is.
Nog ’n geheim: waarom sou enigiemand die saggeaarde selferkende Christen skade wou aandoen?
Is daar iemand wat na 30 jaar antwoorde het?
Tony het by Yvonne Trollop agter in ’n kamer gewoon en aflewerings vir Porterhouse restaurant gedoen. Hy was voorheen in diens van Columbus Staal.
Yvonne het vir ’n paar jaar by ’n kwekery gewerk, maar dit is onbekend waar sy haar tans bevind.
Die aand voor sy dood het Tony by ’n vriendin, Michelle Knoetze, gaan eet.
Hy is om 24:00 by haar weg.
Die volgende oggend om 6:00 sou hy in die rigting van Ladysmith begin stap, om deel te neem aan die Iso Bantoe sendingsaamtrek.
Vir Yvonne se dogter, Jean, het hy by ’n vorige geleentheid gesê dat hy nooit duimgooi nie, maar net aanhou stap, totdat iemand hom oplaai.
“Ek bid eers en vra vir die Here se beskerming voor ek begin stap,” het hy gesê.
Toe hy 20 kilometer buite Middelburg op die Bethalpad gekry is, het hy ’n rooi mus met wit strepe en ’n wit tossel aangehad. Hy het ’n swart denim langbroek en wit T-hemp gedra. Sy besittings was in ’n oranje rugsak.
’n Beeswagter van ene mnr. Kriel het op sy liggaam afgekom.
Sy rugsak en klere was by hom.
Daar was geen teken van ’n worsteling nie.
Die destydse ondersoekbeampte was kaptein Chappy Krugel wat intussen aan kanker oorlede is.
Indien iemand inligting het oor Tony se moord word hulle versoek om Tobie van den Bergh te bel by 0722201568 of e-pos tobie@mobserver.co.za.
Alle inligting sal vertroulik hanteer word.
