Besoedeling en korridorsiekte kommer in Loskopvallei
Die Loskopvallei staar tans een van sy grootste uitdagings nog in die gesig, met voortslepende besoedeling van Kranspoortpas weens trokongelukke, riool wat in strome uit Middelburg in die Klein-Olifantsrivier in vloei, en die uitbreking van korridorsiekte in die Loskopdam Natuurreservaat.

Daar is die week bevestig dat minstens 140 buffels in die reservaat uitgeskiet sal word weens korridorsiekte.
Daar word vermoed dat rondloper beeste verantwoordelik is vir die uitbreking van korridorsiekte onder die buffels.
’n Nuusbron het ook beweer dat die uitbreking is as gevolg van nalatigheid.
Daar is reeds sowat 350 buffels gevang en geïsolleer.
Talle buffels is ook reeds suksesvol vanuit die reservaat verskuif.
Beesvrekte is egter nog nie in die reservaat bevestig nie, wat ekoloë die hoop gee dat die siekte tans nog beheerbaar is.
Die reservaat moes minstens twee jaar siektevry toets om sy status as korridorvrye area te herstel.
Meer inligting oor die reservaat se uitdagings is in die week se Middelburg Observer beskikbaar.
Die area se wildsboere en grondeienaars sit egter nie net regop oor korridorsiekte nie, maar oor voortslepende besoedeling van water en grond digby die Kranspoortpas.
Net verlede week was daar twee swaelsuurstortings weens weghol trokke in die poort.
Die ongelukke was net dae uitmekaar.
Mnr. Leon Smit, wie se plaas aan die poort grens is, nou al raadop en woon nie eens meer vergaderings met SA Nasionale Paaie-agentskap by nie.
Sy plaas is nou al jare die slagoffer van gevaarlike stortings van suur, olie en brandstof.
Die toksiese stortings besoedel nie net die grond nie, maar ook die Kranspoortspruit wat deur sy plaas loop, direk na Loskopdam.
Tonne riool wat daagliks uit verskeie lekkende mangate in Middelburg losgelaat word, vloei ook na Loskopdam en gevolglik die Loskopvallei waar van die land se mees gesogte uitvoerplase lê.
Van olywe tot lemoene word in die vallei geproduseer.
Die kombinasie van riool en chemikalieë van poortongelukke, maak ’n toksiese dubbeldosis.
Terwyl die rioollyn van Zuidstraat na Eastdene op Middelburg vanjaar hopelik vervang sal word, is daar min hoop vir besoedeling by Boskrans se rioolaanleg, veral met die komende reënseisoen.
Die aanleg benodig minstens R350 miljoen net om voortslepende rioollekkasies in die Klein Olifantsrivier te stop.
Kanonkop en Dennesig inwoners onthou maar te goed hoe onleefbaar dit soms kan raak met die Boskrans reuk, veral tydens beurtkrag wanneer rioolwerke stilstaan en lekkasies voorkom.
