Diewe gebruik riet met draadhaak om te probeer steel
’n Riet van meer as twee en ’n half meter met ’n stuk draad haak daaraan is Sondagmiddag in ’n heining in SADCstraat naby die Familia Dei Kerk in Sentraal gekry.

Me. Marié Koen sê sy het dit laatmiddag gevind toe sy om hul huis wou stap om die tuinslang te gaan haal.
Sy verstaan nie hoekom die boewe die riet met sy haak netso laat staan het nie.
Me. Koen onthou egter dat hul honde kort na middagete erg geblaf het. Dit het waarskynlik die booswigte die skrik op die lyf gejaag en laat geepad.
“Ons kom nie gewoonlik in daardie deel van die erf nie en ek vermoed hulle het die huis dopgehou en geen beweging gesien nie, waarop hulle seker goed wou naderkrap om te steel.”
Sy vertel dat inbrekers sowat drie weke gelede helder oordag (tussen 14:00-17:00) een van die huis se vensters oopgewikkel en met iets artikels in die kamer rondgeskuif het. Nou weet sy hoe hulle dit reggekry het, want die diefwering is nie gebreek nie.

Gelukkig word daar niks uit die huis vermis nie.
Wat haar dronkslaan is hoe die diewe in die kompleks ingekom het die vorige keer.
“Daar is elektriese omheining en toegangbeheer.”
Me. Koen meld dat een van haar vriendinne gevra het dat sy moet kyk of daar nie gif in haar erf is nie.
“Met die riet en haak sou hulle maklik van buite af vir die honde gif kon gee, sonder dat die honde naby aan hulle kon kom.”
•Dit lyk of die haak vooraan van ’n draadhanger gemaak is en dit is met tou vasgemaak.
