News

Wat gaan van Leah die donkie, bokkies en apies word?

Wat gaan van Leah, die vriendelike donkie van Amora Dierepark word?

Dit is die vraag op almal se lippe nadat dit bekend geword het dat die huurders en al die diere by die Amora Dierepark in Middelburg kans het tot Desember om van die grond af te wees.

“Ons verstaan dit was ’n besigheidsbesluit en ons is vir niemand kwaad nie. Ons het net dringend ’n ander perseel nodig. Ek kan nie die diere verkoop nie, hulle is my kinders,” het me. Marietjie Britz vanoggend gesê.

Die hele area vanaf Amora Dierepark tot by die geboue waar Sita die hoofhuurder is, behoort aan mnr. Riaan Stander.

Die grond is intussen gesny en is hulle tans besig met ’n koopkontrak met mnr. Nico Taute vir die gedeelte waar die Ninfa Kwekery en Amora Dierepark geleë is.

Mnr. Stander het gemeld dat hy die huurders by die dierepark kans gegee het om teen einde Desember, begin Januarie uit te wees.

Me. Britz sê die ideaal sal wees as hulle steeds teen die dorp, maar in die buitewyke, ’n perseel kan kry met moontlik ’n ou huis, maar met krag en water sodat die dierepark en die huurders kan voortgaan.

“’n Plek met byvoorbeeld ’n burger-erf sal goed werk, dan kan almal, selfs die restaurant en hul personeel saam trek. Ons kan dan dalk ’n ou huis self opknap om die huurders binne en buite die perseel te akkommodeer.”

Beide me. Britz, asook me. Roeleen Roos (wat die Amora Restaurant bedryf) sê hulle is bekommerd oor die restaurantpersoneel en van die huurders wie se enigste inkomste uit hul plekkies by die park was.

“Buiten ek en my dogter, het ons nog vyf personeellede wie se enigste inkomste hul salarisse by die restaurant is, en werk is so skaars” sê me. Roos bekommerd. As daar nie ander uitkoms kom nie, sal die restaurant se deure oop bly tot einde Desember, waarna hulle dan sal moet toemaak.

•Talle Middelburgers was ontsteld toe hulle verneem dat die Amora Dierepark sal moet skuif.

Ouers het graag hul kleingoed soontoe geneem om na die hoenders, hasies, dwergbokkies (genaamd Arhie en Annabelle), skape, varke en natuurlik Leah te gaan kyk en te voer.

Marietjie Britz met Annabelle, die dwergbokkie.

Leah was vir die meeste kinders die gunsteling, want sy het dadelik aangestap gekom as kinders by haar kampie kom staan en toegelaat dat hulle aan haar vat.

•Buiten die park se diere en voëls, is die 1 Pet 2 Many Troeteldierwinkel ook op die perseel en sal ’n ander heenkome moet kry.

•Indien enige persoon moontlik ’n perseel beskikbaar kan stel vir die Amora Dierepark, bel me. Britz by 079 450 2336 of me. Roos by 081 591 4218.

•Lees meer in volgende week se Vrydag uitgawe oor die kooptransaksie en wat mnr. Taute met dié area beplan.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button