News

Paniek oor meters onnodig

Daar is Babelse verwarring oor die nuwe sagteware wat ingevoer moet word op voorafbetaalde kragmeters, wat in November 2024 opgedateer moet wees vir inwoners om krag te kan koop.

Die finansiële diensverskaffer tussen die munisipaliteit en die kooppunt het die sagteware opdatering aangekondig, en alle nuwe voorafbetaalde kragmeters sal tydens fabrikasie opgedateer word.

Die meters wat egter reeds in huise ingerig is, sal met ’n spesiale koepon, met 20 syfers, opgedateer word.
Dié koepon sal by die munisipaliteit deur verbruikers verkry moet word.

Dit sal egter in fases gedoen word, met woonbuurtes wat om die beurt aangekondig sal word vir die opgradering.

Die munisipaliteit kan egter nie gras onder sy voete laat groei met die oefening nie, omdat alle koepons op die huidige sisteem na November 2024, ongeldig sal wees.

Die munisipaliteit sê egter raadslede, wat verlede week opleiding in die nuwe sisteem en sagteware ontvang het, het die wa voor die perde gespan, deur die publiek op hol te jaag na die opleiding.

“Ons het dit duidelik gemaak dat ons bloot ’n loodsprojek met 20 meters van stapel gaan stuur alvorens aankondigings aan die publiek gemaak word,” sê munisipale kommunikasiehoof Prudence Magutle.

Volgens haar moet daar eers gekyk word of daar probleme met die sagteware opdaterings op verouderde meters is.

Sodra die foute opgespoor en uitgesorteer is, sal die munisipaliteit die sagteware opdatering op grootskaal na verbruikers toe uitrol.
“Die sagteware opdatering is egter ’n realiteit,” erken me. Magutle.

Sy sê egter die munisipaliteit moet nou vure doodslaan ten spyte daarvan dat die tegniese antwoorde op die oorskakeling nog nie beskikbaar is nie.

“Met enige verandering is daar verwarring maar in die geval het dit geensins te doen met prysverhogings of oneerlikheid nie,” waarborg me. Magutle.

Volgens haar was die opleiding van raadslede so sleg bygewoon, dat ’n opvolgdatum vir verdere opleiding beplan word.
Daar is ook raadslede by die huidige munisipale spele in Polokwane, wat op hoogte gebring moet word.

Daar moet veral gekyk word of meters wat tussen 2003 en 2014 geïnstalleer is, vatbaar is vir die nuwe sagteware.

“Inwoners kan rustig wees totdat amptelike aankondigings deur die munisipaliteit gemaak word, maar eindelaaste sal dit werk soos die uitrol van die nuwe tip-dromme,” sê me. Magutle.

Sy stel inwoners ook gerus dat daar geen “bymotiewe” met die nuwe sagteware is nie, en dat dit eintlik ’n wêreldwye tendens is.

Enige stygings sal soos gewoonlik deur die raad, op grond van Nersa aanbevelings, goedgekeur word.
Vanjaar was kragtariefheffings meer as 2% laer as Nersa se voorgeskrewe stygings.

Die eindverbruiker sal ongelukkig die opdatering moet doen, omdat verkooppunte se sisteme ook nuwe sagteware sal moet kry.
Die koepon sal net eenmalig ingevoer moet word, waarna krag soos normaal op die meter gelaai word.

Die loodsprojek sal in Mhluzi afskop.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Gerhard Rheeder

I have been a journalist for two decades, with numerous awards to my credit, both in photography and writing. A brief stint as researcher in the opposition offices of the Mpumalanga Provincial Legislature, honed my skills as specialist local government reporter, covering crime and courts.
Back to top button