Pragfoto’s – Kwikstertjie staan bont vir parasietiese Koekoek
Die Madagaskar Koekoek by Kranspoort-dorp wat die hele land se voëlkykers op hol het, het ook nou ’n vlammetjie onder amateur voëlkykers aangesteek.
Mnr. Pieter Goosen sê dat sy buurvrou, me. Amanda Davel, ook onlangs die “Madagaskar Koekoek” in haar tuin gehad het.
Daar was ook ’n kuiken wat deur ’n kwikstertjie gevoer word.
Die kuiken het dit egter volgens mnr. Goosen “nie gemaak nie”.
Mnr. Goosen en me. Davel is korrek met die verwysing na die kwikstertjie op die foto’s.
Die kuiken is egter nie ’n Madagaskar Koekoek volgens plaaslike voëkenners nie, maar ’n Piet-my-vrou kuiken wat deur die kwikstertjie gevoer word.
Die Piet-my-vrou is egter ook van die Koekoek-familie.
Koekoeks is parasietiese-broeiers wat eiers in gasheervoëls se neste lê.
In die Piet-my-vrou se geval word net een eier in die gasheernes gelê.
Die probleem is egter, sodra die Piet-my-vrou uitbroei, dit vinnig groei en ontslae raak van die ander eiers en kuikens in die nes.
Die gasheervoël voer die kuiken wat selfs terugkom vir voeding nadat dit die nes verlaat het.

Die kwikstertjie word tot 20cm groot terwyl die Piet-my-vrou by 30cm draai.
Die laasgenoemde weeg sowat 60g as dit die nes verlaat, terwyl die kwikstertjie maar 20g as volwasse voël weeg.
Verskeie vorige gevalle is ook reeds op kamera vasgelê.
Die foto’s wat deur mnr. Goosen verskaf is, is van die mooiste en duidelikste uitbeeldings van die wisselwerking meen me. Elsie Cross van Kranspoort-dorp se Geveerde Vriende Voëlkykklub.
Sy sê dat daar sedert die Madagaskar Koekoek se aankoms op die landelike dorpie, reeds meer as 100 besoekers, selfs ’n internasionale groep toeriste, by Kranspoort-dorp verwelkom is.
Die Koekoek was tot dusver maklik om op te spoor, maar vandag was sy unieke roep nog nie gehoor nie.
Kranspoort-dorpenaars soek tans na die voël wat voëlkykers verskeie geleenthede gebied het om hom af te neem en op video vas te vang.
Verskeie voëlkyk-klubs van so ver as Johannesburg en Potchefstroom het reeds aangedui dat hulle Kranspoort-dorp wil besoek.
Met die besoek van die Koekoek het die dorpie se bevestigde voëlspesies tot ’n allemintige 232 gegroei.
