News

Diewe vry want slagoffers maak nie sake nie

Reaksielede van Mid Alarms moes by twee geleenthede oor die naweek diewe, waaronder ’n kabeldief, laat gaan omdat die slagoffers nie sake wou maak nie.

BJ Vorster (algemene bestuurder Mid Alarms) sê dat hulle met die hulp van die nuwe ‘Mid Alert’ analitiesestelsel die twee verdagtes in die kliënte se persele gesien het.

Die eerste voorval was Vrydag omstreeks 13:00 toe die stelsel hul in kennis gestel het dat daar ’n persoon rondsluip op ’n perseel waar daar ’n stoor is.

Met sy aankoms by die perseel het BJ die verdagte op heterdaad betrap.

“Hy het reeds die kragkabels van meer as 10m van die masjiene afgesny en ek het dit in sy besit gekry.” Die kabels is etlike duisende rande werd.

Die kliënt is gekontak en hulle het ook die polisie gebel nadat die booswig vasgetrek is.

Hulle is in kennis gestel dat die polisie se voertuie almal uit is en het hulle op die perseel gewag.

Die betreder wat met die hulp van Mid Alert op ’n besigheidsperseel vasgetrek is.

Nadat daar meer as ’n uur gewag is, het die kliënt vir BJ gesê dat hulle maar die dief sal moet laat gaan, want hy kan nie langer wag nie, hy moet terug na sy werkplek toe.

Net ’n dag later het ’n soortgelyke geval gevolg by ’n ander perseel.

Mid Alarms se reaksielede het ’n betreder in ’n perseel betrap. Die polisie se voertuie was almal uit en na ’n lang wag, is die verdagte laat gaan.

“Ek verstaan dat mense nie wil wag vir die polisie, sake wil maak of selfs howe toe wil gaan nie,” sê BJ.
Hy voeg by hoe belangrik dit eintlik is dat mense wel sake moet maak.

“Al verskyn hy en word dadelik laat gaan met ’n boete, is dit tog ’n afskrikmiddel. As hy in die hof was, kan ons sy gesig gebruik op ons databasis en dan vir die polisie wys dat dit ’n gewoontemisdadiger is as hy wéér gevang word.”

Wat hom bekommer is dat baie van die diewe wat hulle vang, meer as een keer vasgetrek word.

“Hulle kom mos nou agter hulle word nie aangekla nie. Jy vang hom en laat hom gaan. Dan gaan sit hy net weer voor die besigheid en wag dat jy ry, sodat hy weer kan inbreek of steel.”

Hy is ook bekommerd dat van die diewe wat elke keer wegkom, meer waaghalsig en aggressief raak en mense kan beseer as hulle nie voor die hof gedaag word nie.

•Een van hul kliënte het tydens ’n vorige inbraak nie ’n saak gemaak nie, maar toe dieselfde verdagte wéér toeslaan en gevang word, het hy seker gemaak dat daar ’n saak gemaak word.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button