Boomslang, mambas en mosambiekse spoegkobra ‘kuier’ op plaas
In die laaste paar weke is daar ’n swartmamba, ’n mosambiekse spoegkobra, en meer onlangs ’n boomslang op ’n gedeelte van die plaas Draaihoek gekry.
Die plaas grens aan Presidentsrus en dis nie meer vir boere ’n verrassing as daar ’n giftige slang sy kop tussen die bosse uitsteek nie.
Vroeër hierdie week het ’n Middelburger op die Facebookboekgroep, “Snakes of Southern Africa,” ’n foto geplaas van ’n heldergroen slang met die vraag of dit ’n boomslang is.
Die slang is afgeneem op Draaihoek en mense het gedink dit kan moontlik ’n groen mamba wees.
Die duidelike skubbe op die slang het die identifikasie egter vir slangkenners maklik gemaak om hom te identifiseer as ’n boomslang.
Die Middelburg Herpetologiese Vereniging (deel van LimPuma) het op hul WhatsApp-groep ook die foto geplaas en gemeld dat dit duidelik ’n boomslang was.
Alhoewel Fanie Strydom deesdae in Phalaborwa bly, is hy nog deel van die Middelburg Herpetologiese Vereniging en het hy bietjie meer vertel van dié slang.
Hy sê mense moenie die boomslang onderskat omdat sy tande net agter onder sy oogkaste sit nie.
“Die boomslang is nie ’n baie aggressiewe slang nie, maar hy sal beslis byt as hy seergemaak, of in ’n hoek gedryf word.”
Sy gif is druppel vir druppel giftiger as ’n swartmamba, maar die verskil kom daarby dat hy nie baie gif vrystel as hy byt nie.
“’n Boomslang gee ongeveer 1mg gif as hy byt, waar ’n swartmamba 300-400mg in sy byt gee.”
Dit is juis waar die probleem inkom as ’n boomslang jou byt.
“Sommige pasiënte wys eers na 72 uur simptome!”.
’n Boomslang en selfs ’n mamba se byt is baie keer pynloos, veral as ’n mens in ’n bos loop, waar dit soms voel asof ’n takkie jou gekrap het.
Met ’n mamba-byt, is die reaksie binne minute, en kan teengif so gou as moontlik toegedien word.
Omdat ’n boomslang se byt-simptome so lank na die tyd eers wys, kom die pasiënt eers agter daar is groot fout as sy neus en oë begin bloei en as inwendige bloeding begin.
Sou die pasiënt egter weet hy is gebyt deur ’n boomslang, sê Fanie, kan die hospitaal dadelik die pasiënt se bloed begin toets.
Omdat die teengif ’n vervaldatum het en daar so min mense deur boomslange gepik word, is daar bitter min hospitale wat wel teengif beskikbaar het.
“As ernstige simptome in die boomslang byt-slagoffer se bloed begin wys, kan hulle ’n algehele bloedoortapping doen, of die pasiënt so gou as moontlik oorvlieg na ’n hospitaal, wat wel teengif het.”
Die meeste hospitale of mediese instansies het gelukkig teengif beskikbaar vir mamba-byt en word daar gewoonlik ’n minimum van 10 ampules toegedien om die pasiënt se lewe te red.
Mosambiekse spoegkobras is ook uiters giftig met neuro- en sitotoksiese gif, en in 70% van die gevalle met slagoffers ook ’n veloorplanting kry.
• Fanie sê hy dink die skielike toename van slange het te doen met die feit dat slange vroeg in die reënseisoen na ’n maat soek vir paar, en ook kos soek. Hy het gewaarsku dat mense nie slange self moet vang nie, maar eerder die plaaslike herpetologiese vereniging se lede moet kontak.
• Vir die verwydering van slange, bel Mark Salzwedel (ondervoorsitter van die plaaslike tak) by 082 898 5242, of Victor (voorsitter) of Karin Boshoff by 082 697 9954 of 083 628 4902.
• Alle slange wat die herpetologiese vereniging verwyder by huise of besighede, word nadat die slange ondersoek is vir beserings, dadelik weer losgelaat in ’n veilige area.
•Al hoe meer slange kom in Middelburg self ook voor en is daar onlangs in Eastdene ook ’n boomslang gevang.
