News

Kabeldief slaan vrou toe sy hom konfronteer

’n Kabeldief het ’n vrou met ’n sak aangeval toe sy hom op heterdaad betrap het waar hy vanoggend ’n kragkabel by ’n lig in Framestraat gesteel het.

Me. Ria van der Merwe (66) sê sy het die man vroegoggend opgemerk waar hy op en af in die straat loop.
Sy het vir haar man vertel van die verdagte persoon wat sy gesien het.

“My woorde was skaars koud, toe hy reguit na die paal toe loop en die kabel sny.”

Me. Van der Merwe het haar selfoon gegryp en na buite gehardloop.

“Toe ek by hom kom, het hy sy gesig bedek toe ek hom wil afneem. Hy het my ook begin slaan met die groot plastieksak wat hy gehad het. In die sak was blikkies, maar ook iets swaar. Ek vermoed die kabelsnyer wat hy gebruik het, was onderin.”

Me. Van der Merwe het woes gekoes om nie ernstige beserings op te doen nie.

Die skade wat hy by die lamppaal aangerig is, waar die kabel gesny is.

Die booswig het skielik vir haar gevra: “Madam, kan ons nie praat nie, maar ek het vir hom gesê ek wil niks vir hom sê nie. Ek het vir hom gesê: ‘ek wil jou gesig sien!”

Hy het egter sy baadjie se kappie oor sy kop getrek en agter ’n boom gaan skuil.

Kort daarna is die voorval op noodgroepe aangemeld en het lede van die Noodroep Radiogroep Sektor 3, asook lede van die Dagpatrollie die area gefynkam, maar hy het soos mis voor die son verdwyn.

Me. Van der Merwe sê sy self het ook rondgery en na hom gesoek, maar hom nie weer gesien nie.

•Rdl. Juanette Mentz, wat self ook die boodskap van die kabeldiefstal op noodgroepe gedeel het, sê kabeldiefstalle, veral van straatligte in daardie area het ’n ernstige probleem geword.

Veral in Luttig-, Plein- en Kogelstraat.

Vrydag is daar ook ’n persoon op heterdaad betrap op die hoek van Plein- en Kogelstraat waar hy ’n kabel gesny het. Hy het die kabel neergesmyt. Gelukkig kon die elektriese afdeling dit heg.

“Inwoners verstaan nie altyd dat die elektriese afdeling doen wat hulle kan nie. Oral word kragkabels gesteel!”

Sy was vol lof vir die direkteur van die elektriese afdeling, mnr. Ntokozo Guberu, se hulp.

Kabeldiefstalle is regdeur die dorp ’n probleem en moet die elektriese afdeling rondhardloop om herstelwerk oral te doen.

“Ek het op 12 Oktober vir hom vertel van die kabeldiefstalle wat ’n ernstige krisis aangeneem het in Luttigstraat. Die volgende dag was hy self daar en voor die einde van die dag het die span al die straatligte se kabels kom regmaak.”

Sy sê ook dat sekere straatligte se kabels reeds vervang is met ander kabels wat nie deurgesny kan word nie.

“Die kostes om die hele tyd kabels te vervang, beloop ook derduisende rande!”

•Rdl. Mentz doen ’n ernstige beroep op die gemeenskap om die munisipaliteit se oë en ore te wees, soos me. Van der Merwe vanoggend.

“As jy deel is van enige noodgroep en sekuriteitsfirma, laat hulle dadelik weet as jy sien iemand karring by ’n lamppaal of ander kragkabels. Hou die kabeldief ook dop, of probeer ’n foto neem, sodat hulle vasgetrek kan word.”

Sy het dit duidelik gestel dat mense nie hul eie lewens in gevaar moet stel nie, maar eerder ’n veilige afstand tussen hulle en die kabeldiewe moet hou, tot die noodgroepe, munisipale polisie of sekuriteitsgroepe opdaag.

•Rdl. Mentz het gesê dat die Valke onlangs toegeslaan het op ’n skrootmetaalbesigheid wat koperkabels aangekoop het by dié diewe.

“Solank daar ’n mark is daarvoor, solank sal hulle steel. Ek voel skrootmetaalbesighede moet glad nie die koperkabels by hulle koop nie en dié wat dit wel aankoop, moet ook vasgetrek word.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button