Dief skop deur oop tydens beurtkrag
’n Inbreker het die voordeur van Jitters Restaurant stukkend geskop en deurgekruip om ’n leë kasregister te steel.
Me. Jackie Vlok vertel die booswig het eers op die trappie gesit, daarna aanmekaar onder teen die deur geskop, totdat die deur omstreeks 22:40 aan die onderkant gebreek het.
Daarna het hy deurgekruip, oor die toonbank gespring en die kasregister gegryp.
“Die kasregister was oop en ’n mens kon duidelik sien hy is leeg. Ek dink hy was egter te haastig om te kyk, want hy is binne sekondes in en uit.”
Daar is tydens beurtkrag talle inbrake by huise en besighede.

By Jitters Restaurant skop die kragopwekker egter dadelik in as die krag afgaan en het die CCTV kameras ook gewerk.
Alhoewel die kasregister leeg was, sê me. Vlok dat die inbraak haar nou baie ekstra kostes besorg het.
“Daar word nou nóg ’n alarm-ogie by die deur ingesit, ons het ekstra paniekknoppies én ons betaal nou ’n sekuriteitswag om die besigheid op te pas!”
•’n Sakeman, wat verkies om anoniem te bly, sê daar is die afgelope maand drie keer by hul besigheid ingebreek in die Middedorp tydens beurtkrag.
Gisteraand was die derde keer.
Tydens een van die inbrake, het hulle bloed op ’n toonbank gekry waar die inbreker hom gesny het by die stukkende vensterglas.
“Die inbreker breek elke keer die venster, gryp wat hy kan en hardloop weg. Tydens die eerste inbraak het hy meer as R60 000 se skade veroorsaak!”
Hulle is tans nog besig om te bepaal hoeveel skade gisteraand aangerig is.
