Kragopwekkers hoog op nagsluipers se diefstallyste
Titon Security waarsku inwoners om kragopwekkers en ander duur toerusting uit hul motorhuise te hou.

In Clubville het vier nagsluipers weggekom met twee peperduur gholfsakke en ’n aangedrewe rolstoel.
Op CCTV videomateriaal kan gesien word hoe die man die erf insluip en die motorhuis se deur oplig.
Twee boosdoeners klim by die motorhuis in en gee dan die gholfsakke onder deur die deur vir hul wagtende makkers aan.

Die inbraak en diefstal vind plaas oor ’n geruime tyd en hoewel daar rondgekyk word in die erf, lyk die inbrekers op hul gemak.
Buite in die straat wag daar ’n dubbelkajuit-bakkie, wat die inbrekers daar afgelaai het.
Op een stadium in die videomateriaal kan gesien word hoe die inbrekers seine met ’n flitslig na die bakkie se bestuurder maak.

Daar is ook vroeër die oggend ’n kragopwekker by ’n ander huis gesteel, terwyl daar verlede week verskeie kere gepoog is om kragopwekkers te steel.
Volgens Titon Security is die diefstalle nie beperk tot sekere areas nie, maar oor die hele dorp.
Indien inwoners enige van die vier mans kan herken, word hulle gevra om die polisie te kontak.
