Madagaskar Koekoek se geroep weerklink steeds oor Kranspoort
Kranspoort-dorp se Madagaskar Koekoek het besluit om sy bosveld wegbreek te verleng.
Die rare voël, wat nog net sewe maal in Suid-Afrika, en twee maal in Mpumalanga, opgemerk is, het twee weke gelede sy sit in die doringbome van Kranspoort-dorp gekry.
Die Madagaskar Koekoek kom gewoonlik net tussen Madagaskar en Mosambiek voor.
Die Koekoek was Dinsdagaand nog opgemerk in die landelike vakansiedorp.
Klubvoorsitter van die Vallei se Geveerde Vriende Voëlkykklub, me. Elsie Cross, bevind haar tans in die wildtuin maar sê dat hulle hoop om die Koekoek met hul terugkoms weer op Kranspoort te vind.
“Voor ons vertrek Dinsdagaand het sy unieke roep nog deur die dorpie weerklink,” het sy Woensdag bevestig.
Sedert die Koekoek se ontdekking in Kranspoort het meer as 100 voëlkykers al op die dorpie toegesak, selfs ’n internasionale toergroep.
Die opgewonderheid oor die Koekoek was verlede week amper oorskadu met waarneming van selfs ’n meer onverwagte besoeker, ’n Kleiner Koekoek (Lesser Cuckoo), wat beslis ’n eerste sou wees.
Die kleiner voëltjie is egter intussen geïdentifiseer as die alegemene Europese Koekoek.
Volgens Geveerde Vriende moet ’n voëlspesie deur twee afsonderlike bronne geïdentifiseer en bevestig word, verkieslik met fotografiese bewyse.
Die Madagaskar Koekoek bring Kranspoort-dorp se totale voëlspesies op 232 te staan.
Intussen staan voëlkykklubs regoor Suid-Afrika tou vir ’n besoek aan Kranspoort-dorp.
