Polly ‘ons Pikkewyn’ is gekry!
Polly die African Grey wat vier dae oorleef het in die wind en weer, is veilig tuis en maak kermgeluidjies terwyl sy slaap.
Me. Annetjie Smith kan nie genoeg dankie sê vir mnr. Charl van der Westhuizen en die personeel van Laerskool Middelburg nie.
“Iemand het haar dopgehou in die boom by die netbalbane en Charl het ons kom haal. Hy wou ook nie beloning vat nie.”
Deur trane deur vertel sy hoe bekommerd hulle oor Polly was.
“Ons het vir almal in die blok waar ons bly en vir die skool laat weet dat Polly weggevlieg het.”
Me. Smith sê dit was vir hulle vreemd dat Polly weggevlieg het vier dae terug, want sy is nie ’n hok-papegaai nie.
“Sy beweeg oral saam met ons binne en buite rond. Ons was ook verstom dat sy die ent gevlieg het, want haar vlerkie is twee maande gelede geknip.”
Me. Smith en haar man, Frikkie, vermoed Polly het geskrik vir ’n valk wat hulle die oggend toe sy weggevlieg het, in die lug sien ronddraai het.
“Ek het vanoggend vir my man nog gesê ek dink ons kan ons maar gereed maak dat Polly dood is, want dit is al vier dae. Ons het gedink die valk het haar gevang.”
Om seker te maak Polly het niks oorgehou nie, het hulle reeds ’n afspraak gemaak met die veearts om Polly te ondersoek en ook sommer weer haar vlerkie te knip.
“Ons sê baie, baie dankie vir elke persoon wat vir ons gebid het, gehelp soek het en die berig wat die Middelburg Observer op hul Facebookblad geplaas het, 95 keer te deel. Ons waardeer dit. Polly, ons Pikkewyn is veilig!”
