Aanranders steeds vry na wrede aanval op landgoed
Daar is steeds geen vordering met die ondersoek na die dood van mnr. Louie van der Ahee, wat drie dae na sy aanranding op die Hermansdal Landgoed, in die hospitaal weens breinbeserings beswyk het nie.
Mnr. Van der Ahee is op 11 September in sy huurkamer op die landgoed deur twee mans oorval.
Hy is geslaan en geskop en sy poniestert is met ’n steakmes afgesny.
Verskeie van sy tande is ook later in die bebloede kamer opgetel.
Op ’n video na die aanval het mnr. Van der Ahee beide sy aanvallers geïdentifiseer.
Hy is die Woensdag na die aanval in die hospitaal opgeneem waar sy skedel oopgesny is om drukking op sy brein te verlig.
Hy het voor sy opname reeds sy bewussyn verloor en dit nooit weer herwin nie.
Volgens kolonel Donald Mdluli wag die polisie steeds op die formele nadoodse ondersoekverslag.
Die dossier sal dan na beheeraanklaers gestuur word om te bepaal of die aanvallers op moord of manslag klagtes vervolg sal word.
Een van mnr. Van der Ahee se vermeende aanvallers het ’n lang rits vorige veroordelings wat strek van aanranding tot bedrog, bestuur onder die invloed, crimen injuria, rig van ’n vuurwapen en diefstal.
Hul identiteit is aan die Middelburg Observer bekend maar kan nie gemeld word voor hul eerste hofverskynings nie.
