Reën is ‘trane’ van blydskap omdat Oupa Kootjie nou in hemel is
Die baie reën “is trane van blydskap uit die hemel omdat oupa Kootjie daar aangekom het.”
Dr. Kootjie Cillié (86) is gisteroggend rustig oorlede.
Sy vrou, Dirkie, wat hom die laaste 75 dae van sy lewe versorg het, het dié spesiale trooswoorde vir haar seun, Johan, gehad toe hy melding maak van die baie reën van Wakkerstroom tot deur Pretoria en Middelburg.
Johan sê sedert sy pa se afsterwe “het ons letterlik honderde boodskappe gekry, maar nie een was net gewone ‘ek is jammer vir jul verlies nie.’ Al die boodskappe het gepraat van hoe ’n sagte, liefdevolle man ons pa was en dat hulle hom nooit sal vergeet nie. Die meeste het ook gesê dat hy die beste dokter was.”
Hy onthou hoe die internis met sy pa se behandeling in die hospitaal gesê het, dat hulle alle behandeling gaan staak en dat hulle hom net gerieflik gaan maak in ’n ander saal.
“Die dokter het gesê dat my pa binne ’n week of twee sou sterf. My ma het dadelik gesê dat sy hom dan in daardie geval huistoe gaan neem en hom self sal versorg. Pa het nog 75 dae geleef nadat hy ontslaan is.”
Johan was by sy pa toe hy oorlede is. “Hy het ’n vier en ’n halwe maande siekbed gehad. Dit was maar van ouderdom en hy is rustig oorlede.”
As hy terugdink aan sy pa se lewe, dan is dit ’n man wat sonder vertoon, liefde en dankbaarheid gelewe het.
“Selfs in die laaste dae as ons vir hom gevra het hoe dit gaan, het hy altyd gesê: ‘baie, baie, baie goed dankie.”
Daar is só baie spesiale dinge wat hy van sy pa onthou.
Dinge soos die feit dat sy pa ’n baie nederige man was.
“Op die koperplaatjie wat voor die spreekkamer gehang het, het daar nie dokter gestaan nie. Net die woorde JF Cillié en sy grade. Toe ek hom as jong seun daaroor uitgevra het, het hy net gesê: ‘mense weet ek is ’n dokter, ek hoef dit nie te vertoon of te sê nie. My pa se tjekboek het ook nooit gesê dat hy ’n dokter was nie.”

Johan vertel trots dat hy dié spesiale plaatjie by sy ma gekry het toe sy pa afgetree het. “Dit hang in my gang.”
Hy onthou ook die keer toe sy pa na ’n motorhandelaar toe is om ’n kar te koop. “Ek was toe so in standerd nege en is saam met hom.”
Sy pa moes natuurlik die koopdokumente invul en het nie die gedeelte ingevul wat sy inkomste is nie.
Die verkoopsdame het hom daaroor uitgevra en sy pa het vir haar gesê dat sy salaris niks met niemand uit te waai het nie.
Sy was omgekrap daaroor en het gesê dat sy hom dan nie kan help om die kar te koop nie.
Op dieselfde oomblik het daar ’n ander verkoopsdame ingestap en sy pa herken.
“My pa het drie kinders van haar in die lewe gebring en sy het die ander verkoopsdame gevra of sy dokter Kootjie mooi gehelp het. Sy was uit die veld geslaan en gevra hoekom hy nie gesê het hy is ’n dokter nie.”
Johan onthou hoe sy pa rustig geantwoord het: “’n Dokter kan niks doen met die kar nie, maar JF Cillié kan die kar gebruik.”
Sy pa het hom ook nooit voorgestel as dokter nie. “Hy het net altyd gesê hy is Kootjie. My pa het geen pretensie gehad nie. Hy het ’n hart vir mense gehad.”
Hy onthou met ’n lag in sy stem hoe ferm sy pa ook was dat daar nooit sleg van ander gepraat mag word nie.
“As iemand geskinder het of iets oor ’n ander gesê het wat nie reg was nie, het Pa altyd gesê: ‘óf jy praat mooi, óf jy sê niks.’ As jy dan met ’n ‘ja maar’ wou verder praat, sou my pa net gesê het: ‘ek verskoon my dan van die geselskap.”
Drie dae voor sy dood het hy op sy rustige manier vir sy vrou gesê: “Mammatjie, hoekom is jy so goed vir my? Ek waardeer dit so baie.”
Johan meld dat selfs toe sy pa uit die hospitaal ontslaan is, het ’n verpleegster met trane in haar oë gevra dat hulle hom daar moet los, want hy is nog nie gesond nie en sy sal persoonlik help kyk na hom.
“Selfs in die hospitaal het hy in almal se harte ingeklim. Hy het met die verpleegsters in Sotho gesels.”
Die egpaar het die laaste bykans sewe jaar by die Eldoraigne Aftree-oord in Pretoria gebly.
“Elke keer as daar nuwe intrekkers was, dan het my pa homself gaan voorstel en die mense gehelp om in te trek. My ma moes ’n paar keer na hom soek, want hy het nie sy selfoon by hom gehou nie. Dan het hy net vir haar gesê dat hy die mense help intrek het en haar aan hulle sal voorstel.”
Die laaste ruk het helpers van die versogingsafdeling in die oggende kom help om dr. Kootjie te bad.
“Hulle het só lief geword vir hom en het met trane in hul oë met my ma kom simpatiseer.”
Tydens sy siekbed het hy gevra dat hulle sy bed teen die venster moet sit sodat hy die voëltjies buite kon hoor fluit.
In hierdie tyd het hy ook bevriend geraak met Dawid wat die tuine in stand gehou het.
“Dawid het kort voor sy dood by die venster geklop en my ma het vir hom gesê om in te kom. Hy het by my pa se bed gestaan en in Sotho met hom gesels. Daarna het hy hartseer gesê: ‘hy is moeg, hy kan maar na Hom (die Here) toe gaan.”
Johan het ter afsluiting gesê dat hulle dankbaar is dat hulle sy Pa vir soveel genadejare by hulle kon hê, maar ons is steeds hartseer want ’n hele era is nou verby. Ons en elke persoon wat hom geken en liefgehad het, gaan oupa Kootjie mis.”
Dr. Cillié word oorleef deur sy vrou, Dirkie, kinders Johan, Maretha, Willem en Francois, skoonkinders en kleinkinders.
Die familie is tans besig om begrafnisreëlings te tref. Die begrafnis sal uit die Raslow NG Kerk in Pretoria gehou word, maar dit sal aanlyn beskikbaar gestel word.
Sodra die reëlings finaliseer is, sal ons dit publiseer.
•Dr. Cillié was in die tagtigerjare ’n bekwame Suidoos-Transvaalse skeidsregter.
•Hy het vir jare ook ’n praktyk gedeel met dr. Theo Smit en dr. Piet van Schalkwyk.
