Juwelier wat dominee en sy vrou vermoor lewenslank tronk toe
’n Voormalige juwelier van Middelburg, Francois Pretorius (46), is lewenslank tronk toe gestuur vir die moord op die afgetrede leraarspaar, dr. Hannes Beukes en sy vrou, Ibel.
’n Pleitooreenkoms is verlede week met die staat aangegaan in die Delmas Hooggeregshof.
Pretorius is 15 jaar vir elk van die moorde gevonnis, waarvan vyf jaar samelopend uitgedien sal word. Pretorius moet dus in totaal 25 jaar gevangenisstraf uitdien vir die moorde.
Hy was alleen in die beskuldigdebank, met geen ondersteuning van familie en vriende tydens sy vonnisoplegging nie.
Pretorius het op 18 Maart 2020 vir dr. en me. Beukes in sy (Pretorius) se huis vermoor. Die egpaar was ’n afgetrede Hervormde Kerk leraarspaar op dié dorp.

Die egpaar het gesterf weens ernstige kopbeserings. Pretorius het hulle wreedaardig met ’n flits (Mag Light) in sy (Pretorius) se kombuis doodgeslaan. Die moorde is gepleeg op ’n plaas wat Pretorius op daardie stadium buite Bethal op die Bethal/Secundapad gehuur het.
Hy het tydens sy bekentenis, wat hy voor ’n landdros afgelê het, gesê dat hy en dr. Beukes gestry het oor geloofskwessies en hy die leraar en sy vrou daaroor vermoor het.
Die egpaar is in die kattebak van hul voertuig in die veld langs die Bethaldam gevind, nadat ’n motorfietsryer die voertuig gesien en die polisie gekontak het.
Dit was duidelik dat die egpaar nie in hul kattebak vermoor is nie, maar elders en die polisie het dadelik met ’n intensiewe ondersoek begin.

Pretorius is een van die mense wat ondervra is, aangesien die leraar op sy kalender die afspraak met Pretorius aangeteken het.
Tydens ondervraging was Pretorius baie senuweeagtig, maar het nie dadelik die moorde beken nie.
Later het hy ’n brief vir sy vrou geskryf waarin hy die moorde erken en die polisie is gekontak.
Pretorius is na Pretoria, waar hy sy voertuig gelos en duimgegooi het tot by sy skoonma, se man, se plaas, by Wonderfontein.
Op hierdie stadium het die polisie al geweet dat hy die moordenaar is en een span het Pretorius se huis gefynkam vir leidrade.
Alhoewel hulle nie ’n druppel bloed in die kombuis gekry het nie, het bykans die hele kombuis opgehelder toe hulle die aand luminol (wat glans waar bloed is) in die kombuis spuit. Pretorius het die kombuis van hoek tot kant geskrop nadat hy die egpaar vermoor het.
Die luminol het gewys waar die bloed oral gespat het en daar is tot bloedspatsels teen die dak gekry.
Met hul soektog na Pretorius waar hy op die plaas weggekruip het, is tot ’n helikopter ingespan, maar hy het hom later aan sy skoonpa, Ernst van der Berg, oorhandig.
Uit die bekentenis voor die landdros en uitwysings wat hy later gemaak het, het die moorddag se gebeure ontvou.
Hulle drie het by die eetkamertafel gesit, waarna hy hulle met die flits aangeval het.
Die egpaar het weens kopbeserings gesterf en forensiese getuienis het later aangedui dat sy ook ’n fraktuur aan haar hand gehad het, soos sy moontlik die houe probeer keer het.
Hy het hulle daarna in hul voertuig se eie kattebak gelaai en met hulle gery na hul huis in die dorp.

Dit laat die vermoede bestaan dat hy hulle moontlik in hul eie huis wou aflaai, sodat dit kon lyk na ’n rooftog wat uitgeloop het op ’n moord.
Die tuinier was besig in die tuin en het hy die kar sien verbyry. Hy het nie besef iemand anders is agter die stuur nie, aangesien die vensters ondeursigtig was.
Vandaar het Pretorius gery na die dam, waar hy die kar in die veld gelos en terug is huistoe.
Sedert die saak in 2020 begin het, het die verdediging onder andere aangevoer dat hy aan ’n oorerflike siekte ly, wat in die bloedvate voorkom en hy nie toerekeningsvatbaar kan wees nie.
Doktersverslae het bevind dat al het hy die siekte, Pretorius wel toerekeningsvatbaar gehou kan word vir sy dade.
•Pretorius en dr. Beukes was beste vriende. Dr. Beukes het die paar maande wat Pretorius die Francois Pretorius Juwelierswinkel naby PostNet in Aerorand (Middelburg) gehad het, gereeld saamgekom hierheen, om hom te help.
•Adj. Nico Veldman (’n Bethal speurder) was die ondersoekbeampte in die saak.
•Adv. Derik Rowles (’n Middelburger) het aangekla vir die staat.
