Huis brand – brandweer maak eers vol
Ooggetuies van die huisbrand in Duikerstraat sê almal “die plaaslike brandweer is pateties” nadat brandweerlede glo gesukkel het om die brandslange aan die brandweertenk te koppel.

Die brand is enkele oomblike gelede eers geblus.
’n Elektriese kortsluiting het vermoedelik die brand veroorsaak.
Die pa, van die huis se huurder, sê dat hy na Duikerstraat ontbied is deur sy dogter nadat inwoners rook by die huis sien uitborrel het.
Die huurders kon aanvanklik nie self die brandweer in die hande kry nie.
’n Polisie reservis wat die gesin ken is toe geskakel, wat op sy beurt die brandweerdienste ontbied het.

Die man sê toe hy by die toneel opdaag was die brandweer nog nie daar nie.
Hy het weer sy vriend geskakel wat vir hom gesê het die brandweer is daar.
“Toe ek vir hom sê ek staan en kyk hoe die huis brand, het hy sekondes later terug laat weet die brandweerdienste tap eers die tenker vol, hulle is op pad”.
Toe die brandweer wel opdaag, het die lede nie mooi geweet hoe om die brandslange aan die tenk te koppel nie, sê die man.

Arthur Hill van die Kanonkop en Dennesig Dagpatrollie het intussen opgedaag en brandweerlede gehelp om die brandslange te koppel.
Mnr. Hill sê dat ’n brandweervrou bo op die trok vir hom gesê het om die brandslang op klep twee te koppel.
“Die volgende oomblik is ek amper van my voete af met ’n stroom water uit klep een gespuit,” sê mnr. Hill wat beaam “brandweerlede het duidelik intensiewe opleiding nodig”.
Toe die tweede tenkwa opdaag, het dinge bietjie gladder verloop.
“Maar die skade was reeds gedoen,” sê die klaer.

Die brand het in een van die kamers in die huis ontstaan.
Niemand is in die brand beseer nie.
Beide die skade aan die huis, en oorsaak van die brand moet nog vasgestel word.
“Wat ek gadegeslaan het is skandalig en ons gaan beslis die saak verder opneem met die munisipaliteit,” sê die klaer.

