Met dié diskoligte wil diewe nie dans maar vlug
Dié diewe wil nie disko nie, hulle wil die hasepad kies!
Wie sal ooit vergeet hoe daar in die sewentiger en tagtigerjare geruk en rol is, met ligte wat in alle kleure flits? Dit is “disko” genoem.
Nou het ’n plaaslike inwoner ’n stelsel ontwerp wat vir diewe “diskoligte” gooi.
Dit blyk egter dat die nagsluipers hulle morsdood skrik vir die flitsende ligte en eerder vlug as dans.
Die stelsel is in ’n erf in Impalastraat (Kanonkop) geïnstalleer.Mnr. Francois Marais was keelvol nadat daar vroeër hierdie jaar in drie weke se tyd drie keer by hom ingebreek is.
“Die inbrake en diefstalle was in die tyd toe die veselkabels en waterpype ingesit is. Elke keer was dit ’n Woensdag tydens beurtkrag.”
Die booswigte het elke keer tydens beurtkrag vir sowat ’n uur gewag totdat die alarmbattery pap was om in te breek.
“Daar is drie bergfietse met ’n totale waarde van R60 000 gesteel en met die gereedskap by wat gesteel is, was my skade R86 000!”
Hy het daarna nie net ’n sterker battery vir sy alarm ingesit nie, maar ook ’n interessante kamera- en ligstelsel.

“As die ogie hom optel, begin rooi en blou liggies flikker, wat vir die dief wys dat hy afgeneem word.”
Die selfde oomblik kry hy dan op sy selfoon ’n waarskuwing dat die ogie en liggies iemand wys en kan hulle optree.
•Die stelsel was pas in, toe ’n boef sowaar een aand van die bure se kant af oor die muur klim.
Op die videomateriaal kan ’n mens sien hoe hy versigtig oor die muur klouter.
Die volgende oomblik lyk dit soos ’n disko toe die blou en rooi ligte begin flikker.
Dit ontsenu die dief en hy gaan sit vir sowat 15 sekondes op sy hurke.
Alhoewel die flitsende liggies en die alarm afgaan, omdat hy nie beweeg nie, gaan dit weer aan toe hy probeer omdraai.
Jy kan sien hy hardloop vir die muur om weg te kom, want hy het waarskynlik die honde gehoor aankom.
Hy is pas weer aan die anderkant van die muur af, toe die drie groot honde aangehardloop kom.
“Hierdie stelsel is baie effektief, want die misdadiger kan duidelik sien as hy afgeneem word!” sê mnr. Marais laggend.
@middelburgobserver Diskoligte skrik dief af
