Dis vlermuise, nie inbrekers!
Drie vlermuise steur hulle nie aan alarm-ogies nie en ’n man moet kort-kort opvlieg wanneer die alarm afgaan, omdat hy dink daar is inbrekers.
“Ek moet nou al die alarm afsit in die aande, want my alarm gaan die hele tyd af,” het mnr. Willie Grobler omgekrap Woensdagmiddag gesê.
Hy bly in Populierstraat (Kanonkop, Middelburg) en sê die vlermuise het sowat drie maande gelede probleme met die alarm begin veroorsaak.
“Is daar nie iemand wat hulle net kan kom haal en baie ver kan wegvat nie?” het hy moedeloos gevra.
Mnr. Grobler wil eersdaags met vakansie gaan, maar is bang om sy alarm vir dié tydperk aan te sit.
“Ek kan mos nou nie dat die alarmbesigheid elke keer na my huis jaag en dan is dit net die vlermuise nie!”
Hy het die plek in sy dakkappe gekry waarvandaan hulle elke aand vlieg.
“Die persoon wat hulle kom haal, kan in die dag kom, want dan sit hulle net daar.”
Indien iemand hom kan help, bel mnr. Grobler by 072 089 0061 of bel Daleen Naudé by die redaksiekantoor by 013 243 1434 of 072 248 3855.
